Die Gordonsbaaise inwoner Mauritz Rossouw, wat daarvan beskuldig word dat hy ’n hond na bewering doodgemartel het, het Maandag 5 Augustus weer in die Strand-landdroshof verskyn.
Die hofverskyning volg nadat die verdagte op Woensdag 3 April in verband met die beweerde voorval, wat by ’n huis in die Van Ryneveld-woonbuurt afgespeel het en deur ’n 58-jarige ooggetuie op video vasgevang is (“Hond doodgemartel,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 10 April).
Die beeldmateriaal wys hoe die troeteldier genaamd Olof glo met ’n tou gewurg en met ’n kombers gesmoor word.
Olof is na die dierewelsynsvereniging geneem waar die rifrug-boerboel-kruising amptelik dood verklaar is.
Rossouw het op Woensdag 10 April op aanklagte van wreedheid teenoor diere in die Strand-landdroshof verskyn.
Die saak is met die mees onlangse hofverskyning tot Vrydag 23 Augustus uitgestel.


