Meer as 400 gr.11- en 12-leerders van Rusthof Sekondêre Skool is Dinsdag 22 Februarie met ’n kletsrymvertoning en motiveringspraatjie vermaak.
Patrick Kakhulu, ’n voormalige leerling en hoofseun wat in 2015 gematrikuleer het, was aan die spits hiervan. Hy is deesdae ’n kreatiewe direkteur.
“Die geleentheid is ’n opvoering (road show) en word geborg deur Adidas en ons besoek verskeie skole in en om Kaapstad,” sê Kakhulu.
“Ons wil leerlinge inspireer en dit duidelik maak dat hulle in beheer van hul toekoms is. Ons weet dis moeilik daar buite, maar hierdie is ’n manier van aanmoediging en ondersteuning,” sê hy.
“Ons lewer ’n motiveringspraatjie en al die kunstenaars tree op.”
Joanne Adams, die skoolhoof, sê die skool se top-matrikulant van 2021, Praise Samuel, het sewe onderskeidings behaal en sodoende ’n beurs van die Rupert-stigting ontvang.
Samuel studeer nou chemiese ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad.
“Dit is besonder inspirerend, want Praise is ’n buitelandse leerder uit Nigerië, maar het sedert gr. 8 deurgaans hard gewerk en het selfs uitstekend presteer in Afrikaans.
“Dit is hartroerend om te sien dat hy suksesvol is en dit wys net dat enige leerling in staat is om groot hoogtes te bereik,” sê sy.
’n Departementshoof by die skool, Gloria Noemdoe, het gesê die opvoering het ook ’n praatjie deur Samuel ingesluit voordat hy ’n geskenk van die skool vir sy prestasie ontvang het.
Emmerentia van Wyk, die lewensoriënteringsonderwyser, het gesê die skool is in noue kontak met die Rupert-stigting waarheen hul beursaansoeke gestuur word en as dit suksesvol is, word die kandidaat genooi vir ’n onderhoud voordat die beurs toegeken word. “Samuel is die tweede leerling van die skool wat ’n beurs van die Rupert-stigting ontvang het en ons is baie bly dat ons hom kon help,” het Van Wyk gesê.
Adams het gesê die skool probeer elke jaar om sy matriekslaagsyfer te verbeter en hoop dat vele leerlinge Samuel sal nadoen.



