Pierre Sam, ’n inwoner van Gustrouw, het drie mense in verlede week se oorstromings uit die water gehelp. Foto: Rick Marais


“Wie is die man? Hy het my vanoggend probeer help om my kar uit diep water te stoot. Hy’t agtergebly en seker gemaak ek’s oukei, toe verdwyn hy.”

Dis hoe ’n vrou Pierre Sam (48), ’n bouer van Gustrouw, beskryf het nadat hy verlede Maandag (25 September) tot haar redding gekom asook twee ander vroue tydens die groot storm en oorstromings in die Helderberg te hulp gesnel het.

’n Foto van Sam in ’n swart hoodie met die woord RUN daarop, het die ronde op sosiale media gedoen.

Sam het daardie Maandag sy werkgewer gaan sien, maar dit was te reënerig om te bou en hy het omgedraai om terug huis toe te gaan toe hy verby Sesde- en Elfdestraat in Rusthof stap. Met sy aankoms by Broadlands-boulevard het hy gesien hoe ’n vrou se motor in ’n diep poel water gaan staan.

“Die paaie was alles vol water. Ek het gestaan en kyk hoe sukkel mense om die pad oor te steek. Toe kom ’n vrou aangery en haar voertuig gaan staan net daar in die water, maar almal ry verby en niemand help haar nie.”

Volgens Sam het die vrou in die motor op daardie oomblik begin paniekerig raak.

“Sy wou nie uit die kar klim nie. Ek het toe iemand met ’n bakkie gevra dat hulle die bakkie so naby as moontlik aan die vrou se voertuig stop. Ek het toe op die bakkie se enjinkap geklim en met albei my bene teen die motor se agterkant getrap en dit vorentoe probeer stoot, maar dit het nie gewerk nie,” vertel hy.

’n Insleepvoertuig het toe stilgehou om die voertuig uit die poel water te probeer kry, maar dié het toe ook in die water gaan staan.

“Die vrou het toe uit die motor geklim en ek het haar deur die diep stroom water gehelp. Nog ’n vrou het ook aangekom en ek het haar ook deur die water gehelp. Ek was papnat en het besluit om terug te keer huis toe.”

Op pad huis toe het Sam nog ’n vrou sien stap, maar die sypaadjie voor haar (ook in Broadlands Boulevard) het meegegee en sy het in ’n gat geval.

“Ek het gelukkig gesien hoe dit gebeur en was dadelik by om haar by te staan en uit die gat te help,” sê ’n beskeie Sam.

Hy is gebore en getoë in Gustrouw en is al sedert 1992 ’n pleisteraar. Ná hy gevra is waarom hy mense help en wat vir hom lekker is daarvan om ander te hulpe te staan antwoord hy “om goed te doen vir ander en my medemens uit te help wanneer ek kan”.

“Ek wil ander aanmoedig om hul medemens te help.”

Die foto van Pierre Sam wat die rondtes gedoen het op sosiale media. Foto: Reneê Roux

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article