Altesaam R12 400 is deur twee skoonheidskompetisies vir ’n jong belowende raakrugby-speler van Strand ingesamel.
Ethan Swartland, ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Hottentots-Holland, het in Maart vanjaar só goed by ’n raakrugby-toernooi in Johannesburg gespeel dat hy gekies is om in Julie aan die raakrugby-wêreldbekertoernooi in Engeland te gaan deelneem.
’n Probleem is egter geld, want teen R60 000 vir verblyf, vliegtuigkaartjies en kos is die toernooi nie goedkoop nie en moes ’n plan gemaak word.
Dit is hier waar Rachmat Valentine, ’n boorling van Strand, betrokke geraak en ’n Mnr. en Mej. Helderberg-skoonheidskompetisie vir Saterdag 3 Junie in Somerset-Wes se stadsaal gereël het.
Die doel was om die nodige fondse vir die jongman in te samel (“Mnr. en Mej. H’Berg help raakrugby-ster,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 3 Mei).
Valentine het gesê sy het juis besluit om Swartland te help aangesien hy die enigste lid van die span van sewe is wat uit minderbevoorregte omstandighede kom en wie se ouers nie die geld gehad het sodat hy aan die toernooi kan gaan deelneem nie. “Ons het die Meneer en Mejuffrou Helderberg-kompetisie op Saterdag 3 Junie gehou en dit was ’n groot sukses.
“Die mense het ons so mooi ondersteun,” vertel sy.
Die eerste kompetisie het sowat R11 000 vir Ethan ingesamel, en Valentine het besluit om nog ’n kompetisie op Jeugdag (Vrydag 16 Junie) in ’n gemeenskapsaal in Brewerystraat in Strand te hou.
“Die tweede kompetisie is die Miss Youth genoem en ons kon met dié kompetisie ’n bykomende R2 000 insamel,” sê Valentine.
Swartland se ouers het egter voor al twee kompetisies self uitgereik en geld begin insamel vir hul seun se komende rugbytoer. “Ons kort nog R9 000 van ons R60 000-doelwit. Ons moet die onderskeie gemeenskappe vir hul skenkings bedank. Sonder julle sou ons nooit soveel al ingesamel het nie,” sê Adian Swartland, Ethan se pa.
Hy vra egter mense wat nog kan bydra om sy vrou, Cheryl, by 081 305 2670 te bel vir bankbesonderhede.



