Andy Arendse, skrumskakel van All Saints, ontvang die bal van sy losskakel, Cheslyn Jack, en oorweeg sy aanval-opsies tydens dié span se vriendskaplike ontmoeting by die Helderzicht-sportterrein. Saints het met 20-14 geseëvier.Foto: Peter Bee


Die eerste ronde wedstryde in die vriendskaplike-liga tussen rugbyklubs in die Helderberg het die afgelope naweek tot groot opwinding in die Kom gelei.

Die liga is deur die uitvoerende komitees van ses plaaslike klubs van stapel gestuur, met die doel om klubrugby in die streek te bevorder, die ses klubs ’n finansiële hupstoot te bied en spelers wat weens die Covid-19-pandemie baie min wedstrydtyd geniet het, tyd op die veld te gee voor die amptelike afskop van ligawedstryde in April.

Die ses deelnemende klubs is Strand, Strand United, St. Georges, Sir Lowrians, Macassar en All Saints.

Die naweek se aksie het Vrydagaand (18 Februarie) reeds begin, met St. Georges wat by die Gustrouw-sportterrein as gasheer vir die Strand-liga opgetree het. Die klubs se drie senior en o.20-spanne het vir die wedstryde uitgedraf.

Die Lulu Boys se eerste span het met 18-15 oor hul teenstanders geseëvier, asook die derde span (17-16) en die o.20’s (18-15). Die klubs se tweedespan-wedstryd het gelykop geëindig, met beide spanne wat 22 punte aangeteken het.

Sir Lowrians het Strand United Saterdag (19 Februarie) by die Sir Lowry’s Pass-sportterrein verwelkom met twee senior spanne en die o.20’s wat sake op die veld uitgespook het.

In die eerstespanwedstryd het die Navy Train en United se manne mekaar behoorlik op die proef gestel en met die eindfluitjie was die telling gelykop (7-7). Die tuisspan se tweede span het in hul wedstryd met 12-5 oor die besoekers geseëvier; so ook die Sir Lowrians-o.20-span wat die wedstryd met 15-0 beklink het.

Rugby-aksie was ook Saterdag op die Helderzicht-sportterrein te sien met drie spanne van All Saints en Macassar wat mekaar die stryd aangesê het. Die Saints-manne het in ’n aksiebelaaide kragmeting van die klubs se eerste spanne hul teenstanders die knie met 20-14 laat buig.

Die tweede span van die MC Boys het sy stem dik gemaak en die wedstryd 3-13 gewen, terwyl die Saints se o.20-span sy wedstryd 17-12 beklink het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article