Om ’n werkende ma en eggenoot te wees, is een van die grootste seëninge.
Ek was gelukkig genoeg om ’n liefdevolle eggenoot, wat in al my suksesse, mislukkings en drome deel, te vind.
Maar deur ervaring het ek besef dat die reusetaak van eggenoot- en ma-wees onvermoeide harde werk – wat dikwels oorgesien word – verg. Dit is harde werk soos doeltreffende tydbestuur, kinders grootmaak, die handhawing van huishouding en verhoudings – alles terwyl jy werkbevrediging en persoonlike doelwitte najaag.
Dít verg waarskynlik ’n besonderse mens met bonatuurlike kragte – ’n supervrou, want net sy kan al die verantwoordelikhede nakom sonder om aan die agterste speen te suig.
Ek het jare gelede in die huwelik getree, en die geboorte van my eersteling, ’n dogtertjie wat ’n ware sonskynkind is en pure vreugde verskaf, het gevolg. Sy is ’n klein mensie wat die strawwe lewe met haar aansteeklike glimlag en spontane persoonlikheid draaglik maak.
Ek strewe met hernude respek en bewondering vir my ma asook die een wat ek bygekry het, pligsgetrou en toegewyd daarna om ’n goeie ma en vrou te wees.
Die meeste dae behels dit die stryd om betyds te wees – of net aanvaarbaar te lyk – vir werk, nadat kosbare slaap deur speeltyd of in die vroeë oggendure van my ontneem is.
Dis die ure voor die stoof of aan huiswerk bestee eerder as om kosbare tyd saam met familie en vriende deurgebring, of om iets meer sielsverrykend te doen. Dis om die swaar verdiende rande keer op keer om te draai om by die veronderstelde begroting te hou. En om by winkels uit te loop sonder enigiets, omdat die behoeftes van jou kind of eggenoot belangriker as jou eie is.
Moet my nie verkeerd verstaan nie – ek sien geen swarigheid hierin nie, want dit is hoe ek my onvoorwaardelike liefde aan my geliefdes wys.
Wat is dan nou beter as die bevrediging wanneer na jou gesin se behoeftes omgesien is; wanneer jy jou man bederf met ’n bordjie van sy gunstelingkos wat spesiaal deur vroulief voorberei is; takies in en om die huis wat klaar is; en ’n paar rand aan die einde van die maand te spaar of om ’n ekstra gaatjie te vul?
Of dit nou as gevolg van oneffektiewe tydbestuur, ’n gebrek aan prioritisering of die verkeerde ingesteldheid is, vergeet ek dikwels – seker nes ander vroue – van myself en dit wat my gelukkig maak, voordelig en noodsaaklik is vir my vooruitgang en nodig is om die beste weergawe van myself te wees, juis sodat ek ’n goeie ma en vrou kan wees.
Dis asof ek my ma met erns hoor sê: “Jy is ook belangrik, Jamey.” Haar wyse woorde laat my besef niks is daarmee fout om jouself soms ’n bietjie te bederf, soos met ’n langer stort nie, om af en toe ’n blaaskans weg van die kookpotte te geniet en kitskos vir aandete te kry nie, of om jou wederhelf vir huiswerk in te span nie.
Hoewel dit in ’n vrou se DNS is om selfloos te wees, kom daar ’n tyd waar ons ook so ’n bietjie aan onsself moet dink en ons mantel afhaal. Slegs óns kan ons geluk bepaal en ons potensiaal verwesenlik.



