Die gospelmusiekkunstenaar Ruben Davids van Macassar stel eersdaags sy nuwe enkelsnit saam met mede-musikant Colin Mitchells bekend.
Die nuwe liedjie, “Is jou saak reg?” word hierdie Sondag (25 Augustus) op alle digitale platforms vrygestel en beloof om luisteraars met ’n vurige krag van lofsang te betower.
Die nuwe mylpaal in Davids se musiekloopbaan volg nadat dié 43-jarige talentvolle baskitaarspeler sy tiensnit-debuutalbum, Snare na my hart, in September 2022 bekendgestel het (“Ruben deel sy passie, hartsmusiek,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 2 November 2022).
Die musiekalbum is nie net ’n melodiese verhaal wat Davids se lewensreis vertel en sy liefde vir musiek deel nie, maar ook ’n huldeblyk aan sy oorlede pa, Stanley, vir sy opofferings, onwrikbare ondersteuning en onvoorwaardelike liefde.
Volgens Davids bring die nuwe gospeltreffer ’n sterk boodskap – een waaruit hy inspirasie geput het ná die verlies van die familiepatriarg. “Ek moes myself afvra of my saak met God reg is, veral as ek weer eendag my pa wil sien,” voer hy aan.
Davids het sy liefde vir musiek ontdek as ’n kind wat in die kerk grootgeword en met ’n sterk gevoel en emosie geweet het musiek maak is sy passie. Boonop kom dié musikant uit ’n talentvolle, musikale familie. Davids se ouers het albei harte met hul mooi stemme betower en sy broer Timothy is ’n passievolle, energieke tromspeler wat gehore se voete laat jeuk.
Nes sy pa het Davids ook verskeie musiekinstrumente bemeester. Benewens sy talent agter die tromme of op die klavier is sy Godgegewe gawe vir musiek-maak duidelik wanneer hy aan die snare van sy baskitaar pluk en die hartsnare van luisteraars met sy pragtige musiekstukke roer. Dit is ook die geval met sy nuutste musiekstuk wat nie net sy vaardighede om die kitaar te tokkel uitbeeld nie, maar ook die kuns van die een-man-orkes Alvar Gyzie Uys en Mitchells se kragtige sangtalent.
“Ek’t geweet ek sal moet werk met ’n ander engineer; iemand wat hierdie musiekstyl sal verstaan. Ek en Colin is soos broers en ek het sy stem al gehoor op liedere. Ek het hom genader vir die saamwerkgeleentheid en die res was absoluut magic!”
Volgens Davids het die musiekstuk hom minder as ’n maand geneem om vas te lê en was hy geïnspireer deur sy plig om as getroue Christen die Here se boodskap deur sy gawe vir musiek te verkondig. “Die boodskap van Christus moet verkondig word; daar is soveel mense op soek na hoop en antwoorde. Hoewel die lied ’n sterk boodskap oordra, bied dit ’n lekker beat met soveel klanke en ritmiese elemente wat eie is aan ons soort musiek. Dit bied beslis ’n happy-go-lucky-gevoel.”
Op die vraag oor hoe hy oor die mylpaal voel, sê Davids: “Ek is baie trots en dankbaar. Ek ag myself baie bevoorreg om te kan doen wat ek doen.”




