Die geliefde Ruben Davids, ’n musikant van Macassar, jubel en juig oor die seëninge wat oor sy lewe uitstort.
Dié 42-jarige gospelmusikant het voorverlede maand (September) nie net met blydskap in die huwelik getree nie, maar ook sy tiensnit-debuutalbum bekend gestel.
Ruben het slegs dae ná die mylpaal in sy musiekloopbaan op Saterdag 17 September die knoop deurgehak en trou beloof aan sy eggenote, Candice (née Smith). Maar benewens die genot van die getroude lewe is Ruben in sy noppies oor die musiekalbum wat besonders goed deur ywerige luisteraars ontvang word.
Die musiekalbum getiteld Snare na my hart is ’n melodiese verhaal wat Ruben se lewensreis vertel en sy liefde vir musiek deel. Maar wat die CD so besonders maak, is dat dit ’n huldeblyk is aan sy pa, wyle Stanley Davids, vir sy opofferings, onwrikbare ondersteuning en onvoorwaardelike liefde.
“My pa en ma, Kathy, het saam alles in hul vermoë – finansieel, fisiek, emosioneel en geestelik – gedoen om my te ondersteun sodat ek die hoogtes waarna ek gemik het, kan bereik.”
Hy sê sy album – wat deur Darryll Manuel vervaardig en deur Wet Rain Studio opgeneem is – praat van ’n tweede kans wat God aan ons gee en dat Hy saam met ons deur die lewe, insluitend die moeilike tye wat slegs tydelik is, wandel.
Die kunstenaar het sy liefde vir musiek ontdek as ’n kind wat in die kerk grootgeword het, en met ’n sterk gevoel en emosie geweet het musiek maak is sy passie. Boonop kom dié musikant uit ’n talentvolle, musikale familie.
Ruben spog met sy ouers wat albei met hul mooi stemme harte betower het, en sy broer Timothy, wat as passievolle, energieke tromspeler gehore se voete laat jeuk.
Nes sy pa het Ruben ook verskeie musiekinstrumente bemeester. Benewens sy talent agter die tromme of klavier, is Ruben se Godgegewe gawe vir musiek maak duidelik wanneer hy aan die snare van sy baskitaar pluk en met sy pragtige musiekstukke die hartsnare van luisteraars roer.
Vir ’n musikant is dit altyd ’n bepalende oomblik wanneer jy verlief raak op ’n instrument, en vir Ruben was dit toe hy die eerste keer die baskitaar in die kerk gespeel en kosbare, vurige genot aan die gemeente besorg het. Hierdie soete herinnering was nog ’n eerste vir dié talentvolle musikant.
In ’n terugblik het Ruben vertel hy het die verhoog as deel van die Youth in Action-gospelgroep met sy weergawe van die lied, “There is a race I must run”, 22 jaar gelede die eerste keer aangedurf. Dit was ’n optrede – nes elkeen wat gevolg het – wat weerspieël het presies waarom hy in die musiekbedryf uitblink.
“[Ek maak musiek met die doel] om te inspireer; die lig te wees vir ander wat donkerte in die gesig staar of trotseer, en ’n bemoedigende gees te wees wat mense deur moeilike tye help,” vertel hy.
Ruben spog met musiekonderrig wat hy by twee kolleges ontvang het – as student by die Prompt-musiekskool in Athlone, onder leiding van die bekende Suid-Afrikaanse klawerbordspeler Camillo Lombard, asook ’n jaarkursus aan die M7-musiekskool in Kaapstad, onder Abdullah Ebrahim in 2003. Maar dié kranige musikant het die meeste van sy kennis opgedoen deur die geleenthede wat hom te beurt geval het.
’n Hoogtepunt wat bo talle in sy musiekloopbaan uitstaan, is vroeër vanjaar se onvergeetlike optrede in Kimberley, waar hy die geleentheid gebied is om die samaritaan wat sy musiekalbum geborg het, te ontmoet.
Hierdie kunstenaar, wat as instrument-spesialis by die musiekwinkel Bothners in Somerset-Wes werk, droom om eendag deur die wêreld te toer en op die internasionale verhoog naam te maak.
Hy het verder sy dankbaarheid aan almal wat hul ondersteuning gebied het, uitgespreek. V Vir jou kopié van Ruben se debuut-musiekalbum teen ’n weggeeprys, reik uit na Ruben op WhatsApp by 083 591 3167 of stuur e-pos na rubendavids@gmail.com.



