’n Kroeg in Hoofweg, Somerset-Wes, is verlede Donderdag (17 Februarie) in ’n gewapende rooftog geteiken.
Die voorval het helder oordag plaasgevind en die vermeende rower het tienduisende rande gebuit.
Die verdagte is steeds soek.
Sers. Suzan Jantjies, woordvoerder van die Somerset-Wes-polisie, het die voorval bevestig en gesê beamptes is omstreeks 08:30 na die toneel ontbied.
’n Gewapende rower het kort nadat die klaer, ’n 44-jarige werknemer, vir werk ingekom het, op die sakeperseel toegeslaan.
“Volgens die klaer het hy die sakeperseel oopgesluit, ingegaan en die deur agter hom gesluit. Terwyl hy besig was om geld te tel, het hy ’n onbekende man met ’n vuurwapen binne gewaar. Die verdagte het hom met die vuurwapen aangehou en geld uit die kluis geëis,” het Jantjies gesê.
“Die verdagte het toe die geld gevat en van die toneel af gevlug.”
Die polisie ondersoek ’n klagte van sakeroof en doen ’n beroep op die publiek vir inligting wat tot ’n deurbraak of inhegtenisneming kan lei.
Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, speursers. Warren Pietersen, by die Somerset-Wes-polisiekantoor by 021 850 1344 bel.
DistriksPos het na die sake-eienaar om kommentaar uitgereik, maar sonder sukses. Die sakeman, wat die kuierplek al byna twee dekades lank met sukses bedryf, het die geleentheid om op die voorval kommentaar te lewer van die hand gewys en verduidelik: “Ons voel sleg oor wat gebeur het en die negatiewe uitwerking wat dit op ons onderneming het. Die voorval was traumaties en ons wil dit nou net agter die rug kry en aanbeweeg.”

