’n Macassar-inwoner het ’n klagte oor die storting van ’n dier se karkas in Duneweg, Macassar, aangemeld, en is dankbaar vir die Wyk 109-raadslid, Peter Helfrich, en die Stad Kaapstad vir hul vinnige reaksie om dit te verwyder.
Pastoor Mark Baatjies het Maandag 20 Januarie die karkas by ’n stuk veldrypad gesien en die vonds direk aan die provinsiale department vir omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning aangemeld. Hy het ook gewaak oor die groter probleem van onwettige storting en ander “elemente” soos prostitusie in die omgewing.
“Mense stort rommel al langer as ’n jaar in daai pad,” sê Baatjies.
Hoewel Baatjies die vonds reeds aangemeld het, meen Helfrich hy is eers Saterdag 25 Januarie ingelig oor die karkas wat gevind is. “Ek het toe saam met ’n gemeenskapsleier gaan kyk en dadelik opgetree,” sê Helfrich.
Die betrokke stadsdepartement het die karkas op Maandag 27 Januarie verwyder. Volgens die Stad was daar geen bewyse van onwettige storting nie en hul ondersoek kon geen tekens van slagting vind nie, aangesien die karkas reeds verwyder is. “Die Stad se gesondheidsdepartement het ook geen stortingsklagtes van dié gebied in die verlede ontvang nie,” sê die Stad.
Baatjies beweer dit is nie die eerste keer dat ’n geslagte karkas in die pad gestort is nie en het in sy klagte aan die Stad gesê sulke dade hou ’n omgewingsgevaar vir alle inwoners van Sandvlei en Kramat in. “Diere-afval wat gestort word, kan bakterieë, virusse en parasiete bevat asook soönotiese siektes in ons gemeenskap veroorsaak,” het hy aan die Stad geskryf.
Volgens Rob Quintas, burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, is die betrokke pad ’n grondpad op onbewerkte plaasgrond wat in private besit is. “Hierdie pad behoort nie aan die Stad nie, aangesien dit nie binne ’n amptelik geregistreerde padreserwe geleë is nie.”
Die Stad sê die grondpad is in ’n oop ruimte en ’n ent van enige woongebied. “Indien storting voortduur, kan ’n gesondheidsoorlas egter ontstaan,” voer Quintas aan.
Helfrich is tydens sy besoek deur gemeenskapleiers ingelig dat die pad ’n brandpunt vir prostitusie en onwettige storting is. “Ek het aan die leierskap verduidelik dat ek na die grondeienaar sal uitreik om die sluiting van die pad te bespreek, benewens die Stad se deurlopende pogings,” het hy gesê.
Wayne Dyason, ’n woordvoerder vir wetstoepassing, het inwoners aangemoedig om enige gevalle van prostitusie aan te meld.
Helfrich sê hy het ’n aksieplan ingestel en is in kontak met die grondeienaar. “Die eienaar is daartoe verbind om toegang tot die pad af te sluit om enige toekomstige onwettige aktiwiteite te voorkom,” voeg hy by.



