Lede van die Vroue in Aksie-beweging beloof om met elke hofverskyning van die beskuldigde in die moordsaak van Robert van Wyk in hul gedrukte T-hemde ter ondersteuning van sy eggenoot, Heibrey Jacobs (tweede, van links), by die Somerset-Wes-hof teenwoordig te wees. Dis ongeag die beskuldigde en sy regspan wat glo ’n bohaai oor die bewoording wil maak. Foto: Jamey Gordon


’n Plaaslike polisiebeampte wat tereg staan vir die moord op Robert van Wyk het Vrydag (11 Augustus) vir die eerste keer in die Somerset-Wes-streekhof verskyn.

Die konstabel van Somerset-Wes-polisiekantoor was glo deel van ’n groep polisiebeamptes wat byna twee jaar gelede ’n klopjag by Van Wyk se tuiste in Chris Nissenpark uitgevoer het en die 44-jarige pa ten aanskoue van sy twee minderjarige seuns doodgeskiet het.

DistriksPos & Helderberg Gazette het vroeër berig dat polisiebeamptes van die misdaadvoorkomingseenheid op Dinsdagoggend 23 November 2021 glo op die gesin se woning in Uraniumstraat toegeslaan het met ’n lasbrief om die huis vir dwelms te deursoek (“Dit was moord”, 25 November 2021).

Volgens bronne het die beamptes die huis se voordeur oopgebreek en die huis ingestorm. Die twee seuns, toe 10 en 13, het glo saam gesit en eet toe die polisiebe­amp­tes by hul woning toegeslaan het. ’n Familielid het glo in ’n mislukte poging om Van Wyk “in ’n skynbare aanval” te hulp te snel ’n syvenster gebreek vir toegang tot die huis. Die gemeenskap was in rep en roer oor die beweerde polisiebrutaliteit, wat glo ’n gerespekteerde nutsman wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie en deur baie van die inwoners ontbied is vir takies in en om die huis, geëis het.

Gemeenskapslede het in groot getalle by die toneel opgedaag en woedend uitgevaar teen die polisiebeamptes wat later versterkings ontbied het.

Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het destyds by navraag gesê dat ’n beampte glo twee skote afgevuur het nadat die huiseienaar na bewering een van die polisiekonstabels wat die huis binnegegaan het met ’n voorwerp aangeval het. Van Wyk is toe noodlottig in die regterskouer gewond en op die toneel dood verklaar.

Volgens die Opod-woordvoerder Robbie Raburabu is ’n moordsaak toe geopen.

“Die beskuldigde is aangekla vir moord en het nadat hy gedagvaar is op 24 Februarie vanjaar sy eerste hofverskyning gemaak. Die beskuldigde is later op R500 borgtog vrygelaat en die saak loop nou in die Somerset-Wes-streekhof,” het Raburabu gesê.

Lede van die Vroue in Aksie-beweging asook Chris Nissenpark-gemeenskapsleiers het met die beskuldigde se hofverskyning hul ondersteuning aan Van Wyk se eggenoot, Heibrey Jacobs, verleen. Die groep Vroue in Aksie-lede sou op dié dag ’n rustige plakkaatbetoging buite die hof hou, maar hul planne het weens veiligheidskwessies in die lig van verlede week se gewelddadige taxistaking deur die mat geval.

Volgens die voorsitter, Zorah Motasi, dra die weduwee en haar drie kinders emosionele letsels weens die wrede verlies van hul geliefde, en gaan hulle nie toelaat dat die polisie dié moordsaak onnodig uitrek en later stil-stil onder die mat vee nie.

Sy het verder gepleit dat die beskuldigde, wat duidelik die ondersteuning het van sy kollegas wat in groot getalle elke hofsitting bywoon en hom fisiek beskerm, soos enige ander beskuldigde behandel word. “Hy is uit op borgtog en kan nes ander beskuldigde dieselfde ingang as besoekers aan die hof gebruik. Die spesiale behandeling is nie nodig nie,” het Motasi gesê.

“As die gemeenskap se oë en ore is ons vasberade om te sien dat geregtigheid seëvier.”

Die saak is vir konsultasie tot Vrydag 8 September uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article