Die heuwels van die Simonsberg sal hierdie winter weer lewe kry met ritmiese klanke en die smaak van tradisionele kaasfondue sal op almal se lippe wees wanneer Live Music Sundays na die Delheim-wynlandgoed kom.

Dit begin Sondag 7 Julie en eindig Sondag 25 Augustus.

Elke Sondagmiddag sal ’n ander musikant of groep op die landgoed te sien wees, met ’n diverse verskeidenheid van musikante en style.

Hierdie uiteenlopende program sal wissel van tradisionele Beierse en Duitse musiek en jazz tot kontemporêre pop-aanbiedings, met ’n bietjie romantiese Frans vir ’n skeut flair daarby.

Die program se kunstenaars vir vanjaar se Live Music Sundays by Delheim is soos volg: Hongaarse Trio (7 Julie, 4 en 25 Augustus); Adolf Thelen (14 Julie); Hugo Veldsman (21 Julie); die Nick Ford-projek (28 Julie); die Schalk Joubert-kwartet (11 Augustus).

Dit eindig met Hugo Veldsman op Sondag 18 Augustus.

Soos met elke musiekseisoen by Delheim sal vertonings vergesel word deur die landgoed se gewilde kaasfondue met tradisionele Glühwein, wat met gaste se aankoms bedien word. Die middagete sluit ’n voorgereg voor die hartlike fondue, koffie en nagereg in.

Delheim se reeks bekroonde wyne sal teen kelderdeurpryse beskikbaar wees.

Die geleenthede begin elke dag om 12:00 en eindig om 15:00.

  • Die koste vir die musiekvertoning en ete is R520 per persoon; besprekings kan via Quicket gedoen word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article