Rick Marais, skrywer van die rubriek.


Op 1 Maart 2022 het ek amptelik by die DistriksPos & Helderberg Gazette-span aangesluit en daardie tyd was dit nog twee koerante, ons sou die eerste paar dae van die week werk aan die DistriksPos en dan later die week werk aan die Helderberg Gazette.

Gewoonlik het die harder berigte in DistriksPos verskyn en die sagter nuus in Helderberg Gazette.

Later daardie jaar in Mei toe smelt die twee titels saam en toe kon ons fokus op net een koerant. Maar wat onthou ek van my “kort” jare by die DistriksPos? Die mense, natuurlik die mense. Die Kom se mense is mense wat vinnig in jou hart inkruip. Maar wie gaan ek onthou en waarom?

Ek dink aan Shakier Losper se ma, Gwendoline, wat ek in 2022 ontmoet het na haar seun doodgesteek is met ’n mes in Erijaville op 27 Maart daardie jaar. Gwendoline se hart is steeds in skerwe na haar seun se dood en twee van die verdagtes in die saak is uit op vrye voet na die saak by die hof teruggetrek is. Maar hoekom Gwendoline? Want by haar kon ek sien wat ’n moeder werklik is en dat ’n moeder se liefde vir haar kind nooit stop of net vergete gelaat kan word nie. Sy stuur nog so af en toe vir my boodskappe want die verlange bly daar en sy wonder steeds hoekom die regstelsel haar seun gefaal het en waarom die moordenaars nooit geboet het vir hul dade nie.

Nog iemand wat my by sal bly is Ashford Gouws wat ek in Augustus van 2022 gaan sien het vir ’n berig na sy seun, Byron, op Sondag 31 Julie daardie jaar wreed vermoor is. Ashford het met ’n selfoonliggie in sy hand op die lewelose liggaam van sy seun afgekom. Byron is na bewering deur twee mans met ’n byl en ’n mes aangeval en sy liggaam is op n ander plek gestort. Ek het vir Ashford by sy huis gaan sien en die hulpeloosheid het my na aan trane gehad. Dit is ’n pa wat nie die gereg in sy eie hande kon neem nie en moes hoop dat die regstelsel sy werk reg doen. Die saak sloer steeds en die volgende hofdatum is 24 Mei.

’n Hartseer Johanna Fritz is ook iemand wat ek sal onthou. Haar seun, Brancoulin, is op 18 Junie 2022 oorlede na hy by ’n partytjie in die bors gewond is en met sy aankoms by die hospitaal beswyk het. Brancoulin was 19 en hy was ’n belowende rugbyspeler met ’n blink toekoms by St. George’s-rugbyklub. Vir Johanna is (en was) dit moeilik om te sien hoeveel jong manne (nes haar seun) in die Strand hul lewens op gewetenlose maniere verloor het.

Ek kan egter nie die toutjie vergeet wat al die families bymekaar hou en wat daagliks vir die gesinne ondersteun deur die onderskeie hofsake by te woon en seker te maak die gereg loop sy gang. Die mens is Zorah Motasi, die stigter van die Vroue in Aksie-beweging. Zorah is iemand wat baie gesinne al gehelp en ondersteun het en wat elke dag met alles in haar vermoë veg vir families wat geliefdes aan misdaad verloor het. Vir haar sal ek altyd onthou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article