’n Familiereünie wat veronderstel was om familiebande te verstewig het egter vir ’n plaaslike gesin in ’n nagmerrie ontaard toe hul broodwinner op die samekoms doodgesteek is.

Die noodlottige messteekvoorval het Sondagmiddag (21 Augustus) in Macassar plaasgevind en die lewe van Danfred Klink geëis.

Die 41-jarige veiligheidsbeampte van Macassar Village wou glo sy suster teen haar gewese man, wat na bewering ongenooid by die familiesaamtrek opgedaag en moeilikheid veroorsaak het, beskerm toe sy lewe kortgeknip is.

Klink is glo in die bors gesteek en het op pad na die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Volgens ’n Macassar-polisiewoordvoerder het die voorval omstreeks 17:00 in Kimstraat plaasgevind. Klink se voormalige swaer het by die geleentheid opgedaag en sy gewese vrou glo geteister.

“Toe ’n stryery tussen die twee uitbreek, het die verdagte ’n Okapi-mes uitgepluk. Die familie het uit vrees vir haar lewe nader beweeg en haar broer het in ’n poging om tussenbeide te tree en sy suster te beskerm, die slagoffer geword,” het die polisiewoordvoerder gesê.

Klink is glo deur familielede na die brandweerstasie gejaag en daarvandaan na die hospitaal vervoer. Hy het egter op pad na die mediese fasiliteit weens die meswond in sy bors beswyk.

Klink se skoonsuster, Feroza Booysen, het hom as ’n saggeaarde mens en ’n goeie eggenoot, pa en broer sowel as ’n grapjas beskryf.

“Hy was net ’n liewe mens,” het ’n emosiebelaaide Booysen aangevoer. “Alles is nog net so onwerklik.”

Klink word oorleef deur sy 39-jarige vrou en vier kinders van 21, 17, 13 en vier.

Die 39-jarige verdagte, wat kort ná die voorval deur die oorledene se familie aangekeer en na die polisiekantoor geneem is, is op aanklag van moord in hegtenis geneem. Hy sal eersdaags in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn. . Die Lwandle-polisie doen ’n beroep op die gemeenskap vir inligting in verband met ’n moord verlede Woensdag (17 Augustus).

Volgens sersant Mthokozisi Gama, ’n woordvoerder van die Lwandle-polisie, is beamptes omstreeks 06:30 na die toneel in Onverwachtstraat oorkant die Pholile-informele nedersetting ontbied.

“Met hul aankoms het hulle die liggaam van ’n 49-jarige man, wat in die uniform van ’n veiligheidswag geklee was, aangetref. Die slagoffer het ’n skietwond aan die boud gehad en was reeds dood,” het Gama gesê.

“Getuies beweer die oorledene is geteiken terwyl hy op pad werk toe was. Die motief is steeds onbekend.”

V
Mense met inligting wat tot ’n deurbraak kan lei, word versoek om die ondersoekbeampte, konstabel Mfundo Soyiyo, by 082 378 9294 of 021 845 2060 te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article