Met vergunning van Spier Farm Café sal hierdie wenresepte verseker jou gaste se harte deur hul maag wen.
Aartappelskyfies met avokadopeer-dip en aspersies
Hierdie heerlike aartappelskyfies met avokadopeer-dip en aspersies is die perfekte partytjiehappie wanneer jy hierdie somer vermaak. Die lekker happie word die beste bedien saam met Spier se Seaward Chardonnay, wat spog met aromas van robynpomelo, mango, sitrus met ondertone van rou amandels.
Vir die avokadopeer-dip:
- 1 x groot, ryp avokadopeer
- 40 ml vars uitgedrukte suurlemoensap
- 30 ml (2 e) grasuie, fyn gekap
- 60 ml (¼ k) koljanderblare, fyn gekap
- 60 ml (¼ k) kruisementblare, fyn gekap
- ’n knippie sout
Skil die avokadopeer, verwyder die kern en plaas dan in ’n mediumgrootte bak. Gebruik ’n vurk om die avokado bietjie fyner te druk. Voeg die suurlemoensap, kruie by en geur met sout. Meng goed, bedek dan en verkoel tot gereed om te gebruik.
Vir die aspersies:
- 1 x klein bossie groen aspersies (die dun spiese werk die beste)
- 30 ml ekstra suiwer olyfolie
- 10 ml appelasyn
- 5 ml volgraanmosterd
- ’n knippie sout
Verwyder die houtagtige punte van die aspersies, spoel af en dreineer. Bring bietjie soutwater tot kookpunt, voeg dan aspersies by en blansjeer vir 1 minuut. Plaas die spiese oor na yskoue water, verwyder dan na ’n paar minute. Dreineer, druk droog en kap in blokkies.
Vir die sous:
Plaas die olie, asyn, mosterd en sout in ’n klein potjie en skud kragtig. Gooi die gekapte aspersies oor en gooi dit om oraloor te bedek. Tersyde gestel.
Vir die aartappelskyfies:
- ongeveer 2 groot (of 3-4 mediumgrootte) aartappels
- kanola-olie vir diepbraai
- soutvlokkies na smaak
Gebruik ’n mandolien-snyer en sny die aartappels in baie dun skyfies. Hou die skywe bedek met water terwyl jy die olie tot 180 °C verhit. Gooi die skywe liggies in sarsies een vir een in die olie. Braai tot bros en goudbruin. Verwyder met ’n gaatjieslepel en dreineer op papierhanddoeke en geur met soutvlokkies terwyl dit nog warm is.
Vir voorsit:
Rangskik aartappelskyfies op ’n houtbord, met ’n bolletjie avokadopeer-dip bo-op. Bedek die avo-dip met van die aspersies met die sous oor. Sit dadelik voor (die aartappelskyfies sal sag word as dit staan).
Weskus-mossels met witwyn, preie, suurlemoen & room
Niks klop die kenmerkende geur van vars swartmossels, direk van die pragtige Weskus af nie. Moenie dit oorgaar maak nie – dit benodig net ’n paar minute se warm stoom in jou pot wyn en preie. ’n Paar suurlemoenskille gee ’n lekker pittige aanraking. Sit warm voor met korserige brood om die sous op te vee.
Bestanddele:
- 30 ml olyfolie
- 30 ml botter
- een klein bossie preie, fyngekap (slegs die wit gedeeltes)
- 3 knoffelhuisies, fyngekap
- ’n halwe bottel witwyn (chenin blanc werk goed)
- 1,5 tot 2 kg vars swartmossels, skoongemaak*
- 125 ml vars room
- skil van ’n suurlemoen, fyn gerasper
- sout en peper na smaak
- gekapte vars kruie, om voor te sit (pietersielie en dille werk goed)
*Om vars mossels skoon te maak, spoel dit af onder koue kraanwater. Skrop die buitekante as hulle ’n bietjie harig is, trek dan die grasagtige “baard” van die puntige kant na die ronde kant af. Hulle is nou gereed vir die pot. Onthou, enige mossels wat nie toegemaak is voor kook nie, moet weggegooi word. En enige mossels wat nie oopgemaak het na kook nie, moet ook gegooi word.
Hoe gemaak:
Verhit die olie en botter oor matige hitte in ’n breë swaarboompot. Braai die preie en knoffel tot sag en deurskynend, maar nie te bruin nie. Voeg die wyn by, verhoog die hitte en bring tot kookpunt. Voeg die mossels op een slag by en bedek met ’n deksel. Bring weer tot kookpunt en stoom vir 5-8 minute tot hulle oop en net gaar is. Voeg die room by en verhit deur, haal dan van hitte af en voeg die suurlemoenskil by. Geur na smaak met sout en peper (sommige mossels kan al baie sout wees, so wees versigtig).
Bedien gestrooi met gekapte kruie en ’n glas Spier 21 Gables Chenin Blanc, wat hoofsaaklik afkomstig is van ’n unieke 35 jaar oue wingerd in Tygerberg, Durbanville, en ’n neus van ryp, gebakte appels en appeltert-speserye bied.



