Bevrore mangostafies
Februarie is bewusmakingsmaand vir ’n gesonde leefstyl en vyf bestanddele is al wat jy nodig het vir hierdie skuldvrye verfrissende, heerlike bevrore mangostafies.
Daar is geen bykomende suiker nie, die natuurlike mango is soet genoeg, en is net die plesier wat jy hierdie somer nodig het. Hierdie mango-ysie is geskik vir diegene wat ’n vegan-leefstyl volg, dis glutenvry, en dit maak ’n gesonde, maklike nagereg. Die sjokolade wat in die vrieskas verhard word, is ’n moet en ’n bietjie gekapte neute is ook ’n goeie toevoeging.
Let wel, die resep vereis ’n vriestyd van 6 uur of oornag.
Maak 24 ysies.
Bestanddele:
- 3 mango’s
- 800 ml (2 blikkies) klappermelk
- 10 ml (2 tl) vanieljegeursel
- 280 g vegan-sjokolade, gekap
- 125 ml (½ koppie) klapperolie
Aanwysings:
Plaas die mango, klappermelk en vanieljegeursel in ’n menger en meng tot glad.
Gooi in ’n gevoerde vrieskas-veilige skinkbord en vries die mangomengsel vir sowat 6 uur of oornag.
Haal uit die skinkbord wanneer dit gevries is en sny in stafies van sowat 4 cm by 8 cm.
Plaas die stawe terug in die vrieskas.
Smelt die sjokolade en klapperolie oor ’n dubbelkoker.
Drup die sjokolade oor die stafies en plaas terug in die vrieskas om die sjokolade te stol.
Bêre die stafies in ’n lugdigte houer in die vrieskas vir tot ’n maand om as ’n yskoue bederf op warm somersdae te geniet.
Bron: Food Lovers Market (https://foodloversmarket.co.za/recipes/frozen-mango-bars/); resep aangepas en vertaal.




