Net 13 punte. Dit was die punteverskil tussen Laerskool De Hoop en Laerskool Beaumont om as wenners gekroon te word.
Die twee skole het saam met Hendrik Louw en Somerset-Wes Primêre Skool aan die jaarlikse Benbel-interskole deelgeneem.
Dié interskole in sy 19de bestaansjaar is Saterdag 10 Februarie by De Hoop gehou.
De Hoop was eerste met 285 punte, Beaumont tweede met 272 punte, Somerset-Wes Primêre Skool derde met 184 punte en Hendrik Louw vierde met 169 punte.
Eslo Minnie, sportorganiseerder van Beaumont, het gesê die Benbel-interskole was voorwaar ’n fantastiese jaar van samewerking tussen die vier skole asook ten opsigte van die prestasies van die atlete.
“Die gees van kameraadskap en vriendskap tussen die atlete was ongelooflik.
“Dit was so mooi om te sien hoe die atlete van die verskillende skole ná elke wedloop mekaar omhels en gelukwens, ongeag die uitslag.
Uitstekende rekords, wat lank nog sal bly staan, is gebreek, onder andere deur Jack Hutton wat die 11 jaar oue hoogspringrekord vir seuns o.11 gebreek het.
Minnie het gesê Benbel skep ’n goeie grondslag vir laerskoolatlete om deel te neem en mee te ding terwyl hulle die dag saam met hul vriende geniet.
“Ons hoop hierdie tradisie sal sommer nog vir baie jare voortleef.
“Baie dankie Benbel!”



