Hoe maak ’n mens wanneer die tou opraak en jy nêrens het om heen te gaan nie? Sedert die begin van die jaar het ’n plaaslike maatskaplike praktisyn te doene gekry met vier selfdoodgevalle waarin drie jonger seuns en ’n jongman hul eie lewe geneem het omdat hulle “geen ander uitkoms” gesien het nie.

Brendyn Alloys, wat in die Strand as ’n maatskaplike praktisyn werk, sê die grootste rede waarom die jongmans moontlik hul eie lewe geneem het, was dalk omdat hulle gevoel het hulle kon niemand vertrou om oor hul probleme mee te gesels nie.

In ’n onlangse geval in die Helderberg het ’n 31-jarige man se jonger broer op hom afgekom kort nadat hy sy eie lewe geneem het.

“Die jongmanne voel hulle is nie goed genoeg nie. Hulle reik nie uit na professionele hulp nie,” sê Alloys.

Hy sê ’n stigma het in verskeie gemeenskappe landswyd ontstaan – as ’n jongman depressief is, dan is hy “mal in sy kop”, en dit veroorsaak dat hulle nie uitreik vir hulp nie.

“Die jongmanne gaan in baie gevalle nie na ’n berader nie. Hulle sukkel met ’n swak selfbeeld. Dan wend hulle hulself na alkohol of dwelms. As dit nie help nie, beskou hulle selfdood as die enigste uitweg.”

In die jongmanne se huis is die ouers (soos in meeste ander huise) onder baie druk by die werk om hul gesin in die (kwynende) ekonomie aan die gang te hou.

“Die ouers se gemoedstoestand is nie goed as hulle by die huis kom nie. Hulle gee dan nie voorkeur aan hul kinders se emosionele welstand nie. Hulle kom agter iets was fout wanneer dit te laat is.”

Hy sê ook jongmans wat werk, het nie tyd om gedurende die week na iemand uit te reik vir hulp nie en in die meeste gevalle weet hulle nie na wie toe om uit te reik nie. “Ek was al by hofsake nadat die mans gesinsgeweld gepleeg het en dan by die hof om hulp pleit, maar dis dan te laat, want hulle het reeds hierdie dade gepleeg,” sê hy.

Hy pleit by jonger seuns en jongmanne wat voel hulle het geen ander uitweg nie om eerder ’n knoop aan die tou te maak en vas te hou en uit te reik vir hulp.

Nommers wat geskakel kan word indien jy (of iemand wat jy ken) voel dat hulle nêrens het om hulp te kry nie, sluit in:

  • Suicide Crisis Helpline: 0800 567 567;
  • Depression & Anxiety Helpline: 0800 70 80 90;
  • The Mudifa Foundation: 060 509 2098 (slegs in kantoorure); en 
  • Cipla Mental Health: 076 882 2775 (WhatsApp-nommer)

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article