’n Bobaas-speurhoof gaan sy pos by die Strand-polisie maandeinde verlaat vir groener weivelde nadat hy tot kolonel bevorder is.
Lt.kol. Franklin Plaatjies, wat tans sy pos vol staan as speurhoof by die Strand-polisiekantoor, sê eersdaags vaarwel aan die plaaslike gemeenskap om van 1 Oktober ’n nuwe hoofstuk as speurbevelvoerder by Gugulethu-polisie te begin. “Dis bittersoet,” meen die 56-jarige misdaadbestryder wat beskryf word as raakvatter wat ’n daadwerlike verskil wil maak. “Ek gaan die mense verlaat saam wie ek al 12 jaar lank werk. Ek gaan hulle mis.”
Volgens Plaatjies sien hy uit na die nuwe uitdaging wat voorlê. “Ek gaan Gugulethu toe as ’n speurbevelvoerder. Daar gaan ek net meer mense onder my hê insluitend vier luitenant-kolonels wat elkeen vier kapteins onder hulle het. Dis ’n groot tak met baie dossiere, maar ek sien gewis uit na die uitdaging,” sê hy.
Hy sê hy het vier jaar oor om die res van die mikpunte in sy loopbaan te haal, en dis juis hoekom hy gespring het vir die geleentheid. “Gugulethu het baie met ernstige misdade te doen. Hulle het baie tronkbendes. Ek sal hulle op dieselfde manier takel soos ek die bendes hier getakel het.”
Plaatjies, wat die Strand-polisie vir ’n rukkie verlaat het nadat hy by ’n polisiekantoor in ’n informele nedersetting herontplooi is, het terug Strand toe gekom “met ’n bang” nadat hy gewys het hy en sy speurspan vat raak toe hulle onlangs vir April en Mei as die beste speurders landswyd en in die Wes-Kaap aangewys is (“Strand-speurspan die beste,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 12 Julie 2023).
Kapt. Lionel Farmer, Plaatjies se opvolger, wat al lank lid is van die speurtak se bestuur, is iemand in wie die speurbaas volle vertroue het. “Ek het adjudant-offisiere geïdentifiseer wat nuwe rolle by die Strand-polisie sal inneem. Ek het dié vier beamptes voorberei asof ek reeds bevorder was en toegerus.”
Plaatjies praat prontuit wanneer hy bevestig die Strand-polisie het misdaad onder beheer. “Ons kan nog meer doen. Ons kan ons patrollies opskerp. Maar, die beamptes patrolleer nie blind nie. Hulle het spesifieke fokusgebiede wat hulle patrolleer. Ons het so ver gegaan om daardie gebiede aan veiligheidsmaatskappye te gee sodat hulle ook weet waar die misdaad plaasvind. Hulle is ons force-multipliers, soos ons hulle noem. Dieselfde geld die buurtwagte, wat ook ’n belangrike rol vervul.” Hy is wel bekommerd oor die sakerooftogte en deesdae die sigarette-bende wat nie meer sigarette-vragmotors beroof nie, maar winkels teiken. “ ’n Mens kan op kringtelevisie sien die rowers fokus eerste op sigarette. Daarna sal hulle geld vat, maar hul primêre fokus is die sigarette waarmee hulle die onwettige mark aan die gang hou.” Plaatjies sit vir ’n sekonde of wat met ’n knop in die keel, want hy beskou sy werk as polisiebeampte ’n roeping.
“Die beamptes wat agterbly, moet net voortbou op dit wat ons opgebou het. My pleidooi aan hulle is om net met dít wat ons begin het, aan te hou.”



