Twee plaaslike families worstel met die tragiese verlies van twee geliefdes wat verlede Dinsdagnag (13 September) in ’n vermeende tref-en-trap-ongeluk op die R102 in Somerset-Wes geëis is.
Die voorval het kort ná middernag naby die weegbrug in die rigting van Firgrove plaasgevind en ’n jong paartjie hul lewe ontneem.
Die oorledenes is geïdentifiseer as die 31-jarige Miche Kruger en 34-jarige Shaun Rosland.
Volgens sersant Suzan Jantjies, woordvoerder van die Somerset-Wes-polisie, het beamptes om 00:05 op die ongelukstoneel gereageer.
Jantjies sê daar word beweer dat die paartjie op ’n bromponie in die rigting van Firgrove gery het toe hulle die slagoffers van ’n ongeluk geword het.
Die motorfiets is glo deur ’n ander voertuig wat in dieselfde rigting gery het, van agter getref.
Jantjies sê ’n bakkiebestuurder is, nadat hy in Strand vir vermeende dronkbestuur deur ’n verkeersbeampte aangekeer is, in verband met die voorval in hegtenis geneem. Daar is op die bakkie, ’n werkvoertuig wat blykbaar gestamp is, beslag gelê en die 36-jarige man het Vrydag (16 September) op aanklagte van dronkbestuur en strafbare manslag in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn. Die saak is tot Vrydag (23 September) uitgestel.
DistriksPos & Helderberg Gazette het die maatskappy aan wie die voertuig behoort, genader om kommentaar, maar die geleentheid is in die lig van die voortdurende polisieondersoek van die hand gewys.
Kruger se bedroefde ouer broer, Grant, het hul pyn en smart uitgespreek, maar ook hul hoop dat die gereg sy beloop sal neem.
Hy vertel dat hy met ’n oproep van sy jonger broer, Eugene, ontbied is na die toneel waar ’n hartverskeurende werklikheid hom ingewag het.
“Met my aankoms is net een liggaam naby die motorfiets se wrak gevind. By navraag is ons meegedeel dat my suster meer as ’n paar meter van die ongelukstoneel gevind is,” vertel hy.
Grant voeg by dat dié prentjie van sy geliefde suster waar sy leweloos langs die pad gelê het hom só geraak het dat hy die toneel moes verlaat.
Die emosiebelaaide broer vertel dat hy alleentyd benodig het waartydens hy onbeheerbaar gehuil het voordat hy later na die toneel kon terugkeer.
Kruger se liggaam is naby die kruising oorkant die vulstasie buite Firgrove aangetref.
Daar word bespiegel dat sy moontlik by impak deur die voertuig geskep en later afgeslinger is.
Jantjies het namens die Somerset-Wes-polisie haar medelye met die twee families betuig.
“Ons is hartseer oor die tragiese verlies van twee kosbare lewens,” voeg sy by.
Kruger se naasbestaandes beskryf haar as iemand wat ’n knou toegedien is deur die lewe en nie sonder probleme was nie, maar wie besonder liefdevol veral teenoor kinders was oor wie sy passievol was.
Sy word oorleef deur haar ma, Merle (65), pa Michael (67) en broers Grant, Marlon en Eugene.
Rosland se suster, Kayla, sê die familie is diep hartseer oor die verlies van haar oudste broer.
Sy sê hoewel hulle nie weet wat presies gebeur het nie, was Kruger en Rosland op pad na hul ma in Raithby.
“Alles is so onwerklik, en ons wens net hulle was nog hier saam met ons,” het ’n bedroefde Kayla gesê.
Sy beskryf Rosland as ’n liefdevolle omgeemens – ’n karaktereienskap wat hy en Kruger waarskynlik in gemeen gehad het. Hy word oorleef deur sy ma, Francina, twee broers en twee susters.
Begrafnisreëlings vir die twee ongelukslagoffers word nog getref.



