Die familielede van Kruger en Rosland, wat Maandag buite die hof in ’n plakkaat-demonstrasie deelgeneem het, het hul blydskap oor die borgtogaansoek wat geweier is uitgespreek.Foto:

Credit: SYSTEM

Die verdagte wat aangekeer is in verband met die vermeende tref-en-trap-ongeluk wat die lewe van twee jongmense op die R102 in Somerset-Wes geëis het, is verlede Maandag (10 Oktober) met sy mees onlangse hofverskyning borgtog geweier.

Die 36-jarige verdagte se inhegtenisneming volg ná die botsing Dinsdagnag 13 September naby die weegbrug in die rigting van Firgrove, waar ’n jong paartjie van hul lewe ontneem is (“Botsing eis twee,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 21 September).

Die oorledenes is geïdentifiseer as die 31-jarige Miche Kruger en 34-jarige Shaun Rosland. Die koerant het voorheen berig dat die polisie kort ná middernag op die ongelukstoneel reageer het. Volgens die polisie dui inligting daarop dat die paartjie op ’n bromponie in die rigting van Firgrove gery het toe hulle deur ’n ander voertuig, wat in dieselfde rigting gery het, van agter getref is.

Die verdagte is later agter die stuurwiel van ’n bakkie deur ’n verkeersbeampte weens vermeende dronkbestuur en weens die botsing in hegtenis geneem. Die polisie het op die bakkie, blykbaar ’n werkvoertuig, beslag gelê.

Die verdagte het Vrydag 16 September die eerste keer op twee aanklagte van strafbare manslag en een van dronkbestuur in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn. Die verdagte word tot sy volgende hofverskyning (Maandag 14 November) aangehou.

DistriksPos & Helderberg Gazette het weer eens uitgereik na die maatskappy waaraan die voertuig behoort om kommentaar te kry, maar dit was weer tevergeefs.

In terugvoer op die navraag oor wat die maatskappy se standpunt is oor noodlottige ongelukke waarby hul werknemers en werksbates betrokke is, die gebruik van spoorsnyers wat in die voertuie geïnstalleer is en hoe dit gemonitor word, en wat die maatskappybeleid is rakende die gebruik van werkvoertuie, is die koerant met regsaksie gedreig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article