Twee toneelstukke van die Hoërskool Parel Vallei, insluitend Die Susterskap (foto), sal aanstaande maand in die eindronde van die ATKV-Tienertoneel by die Kunstekaap te sien wees.


Die Hoërskool Parel Vallei pronk vanjaar weer eens met twee produksies onder die landswye top-10 finaliste in die ATKV-Tienertoneelkompetisie wat van Maandag 3 tot Vrydag 8 Oktober by die Kunstekaap aan die nasionale eindronde deelneem.

Die skool se trotse dramadepartement het verlede jaar die gesogte nasionale kompetisie gewen en hoop om vanjaar weer so te maak.

Die PV-kultuurhoof Darryl Spijkers is die dramaturg en regisseur van Die Susterskap sowel as mAaNmAaTs. Hy is in die eerste Wes-Kaapse streekhalfeindronde, wat PV se 5678-produksie gewen het, as die beste regisseur aangewys. Die PV-leerder Talia Roux is as beste aktrise aangewys vir haar rol in (kant)LYNSTAAN.

Talia het in die tweede Wes-Kaapse halfeindronde ’n week later weer die prys as beste aktrise gewen – dié keer vir haar vertolking van die karakter Nadia in Die Susterskap.

Die gr.11-leerder Paul Strydom het op sy beurt die prys gewen vir beste akteur vir sy rol in mAaNmAaTs en die PV-ensemble van meer as 30 akteurs het behoorlik oor die verhoog gehuppel toe mAaNmAaTs die prys vir beste ensemble ontvang het.

“Die ATKV bied ’n inspirerende platform vir dapper jongmense om nie net op nasionale vlak teen mekaar mee te ding nie, maar ook by mekaar te leer,” het Spijkers verduidelik. “Ons is opgewonde om die ander skole hier in die Wes-Kaap te verwelkom en die uiteenlopende stories van Die Susterskap en mAaNmAaTs met hulle te deel.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article