Atlete en ondersteuners van Hoërskool Parel Vallei, Hoërskool Strand en Hoërskool Hottentots-Holland het verlede Vrydag (18 Februarie) met groot verwagting teruggekeer na die paviljoen, baan en veld om die kampioen van die Dis-Chem-interskole 2022 te bepaal.
Die kragmeting het oor drie dae en 129 items gestrek en uiteindelik is PV as die wenner van die Dis-Chem Interskole 2022 met ’n algehele 3 788 punte aangewys.
HS was in die tweede plek met 2 867 punte en HHH derde met 1 720.
Die dag het egter oor soveel meer gegaan as net die atlete wat sake vir die hoogste, verste en vinnigste uitgespook het. Die opening was ’n skouspel van kleur en klank met meer as 180 leerders van die drie skole wat aan die gesamentlike optog deelgeneem het. Dit het ses ouers drie weke geneem om 90 rokkies, 30 rompies, 30 toppies en 50 vlae van 192 m se materiaal te maak.
Die gees op die dag was dié keer nie ’n kompetisie om te kyk wie die hardste kan raas vir die titel van die skool met die beste gees nie, maar ’n spanpoging van al drie skole. Die tema, “Survivor”, het die unieke viering van die lewe, oorlewing en die veerkragtigheid van leerders op ’n besonderse manier saamgebind.
Altesaam agt rekords is vanjaar verbeter. Mila Uckermann van PV het die meisies-o.14-diskusrekord en die gewigstootrekord van 2015 met ’n gooi van 1,97 m verbeter.
Jamial Johnson (PV) het eerste plekke in die 3 000 m, 1 500 m en 400 m behaal en die 16 jaar oue rekord van die o.15-seuns in die 1 500 m met 11 sekondes verbeter.
Christopher Smit (HS) het die seuns-o.19-hamergooirekord met amper 10 m verbeter. Die 979 punte wat hy ingeryg het, het hom die Faasen-trofee vir die beste atleet volgens die ASA-tabel verseker.
Tihanna le Roux (PV) het op haar beurt die 3 000 m-wedloop in 52 sekondes vinniger as die 2020-meisies gehardloop en die Deon Burger-trofee vir die beste atleet in vier items volgens die ASA-tabel ontvang. Sy het eerste plekke in al vier haar items behaal.
HS het vier individuele beste prestasies opgelewer: Caitlyn Wyngaard (spiesgooi), Christopher Smit (diskus en hamergooi) en Jordon Wyne Vaaltyn (hekkies). HHH het die beste verspringatleet en naelloper, Pavashe Muzokomba, opgelewer en PV se Mila Uckerman (gewigstoot), Tihanna le Roux (middelafstande), Zanday Keyser (stap), Jonathan Knipe (driesprong) en Sarah Drinkrow (hoogspring) het die beste in hul onderskeie items gevaar.
Die Peter van der Merwe-skild vir die beste seunspan sowel as die Eb Roelofse-skild vir die beste meisiespan is vanjaar aan PV toegeken.
Die aflosse bly een van die opwindendste items op die program en die skole se gelukbringers, prefekte en oudleerders het almal hul beurt om die baan in verskillende afloswedlope gehad.
Vir die massa-aflosspan, wat uit elke skool se 40 vinnigste meisies- en seunsatlete bestaan, het 120 leerders elkeen 100 m gehardloop. PV was vanjaar eerste oor die wenstreep met HHH in die tweede plek en HS derde.
’n Reuagtige “dankie” gaan aan die hoofborg, Dis-Chem Somerset Mall, en elkeen van die honderde beamptes, afrigters, werkers, noodhelpers, spyseniers, musikante, dansers, dirigente, organiseerders, spanbestuurders en atlete wat met puik sportmangees en uitnemende atletiek ’n rasende sukses van Interskole 2022 gemaak het.



