Die jaarlikse Dis-Chem-interskole-kragmeting tussen die hoërskole Parel Vallei (PV), Strand en Hottentots-Holland (HH) is Vrydag (3 Februarie) aan die voet van die Helderberg beslis en het weer eens ’n skouspel van atletiek op sy beste opgelewer namate die atlete mekaar in 129 items die stryd aangesê het.
Die kenmerklike gees die hele dag het ’n opwindende atmosfeer geskep om elke atleet tot by die heel laaste item oor die wenstreep te help. PV is uiteindelik as die 2023-kampioen gekroon met Strand kort op hul hakke in die tweede plek.
Die opening van die dag met die drie skole se optogte, krete en “sing-songs” het oudergewoonte duisende ondersteuners gelok. PV se “The Greatest Show”-sirkustema het vanjaar weggestap met die gesogte Megan Robertson-geestrofee en HH se treffende uitbeelding van die Olimpiese Spele was in die tweede plek.
Op die atletiekbaan en -veld het altesaam agt rekords gespat.
Mila Ueckermann van Parel Vallei het die diskusrekord vir meisies o.15 asook die gewigstootrekord verbeter. Sy het medaljes ontvang as die beste diskus- en gewigstootatleet en die Faasen-trofee vir die beste atleet ingevolge die ASA-tabel.
Pavashe Muzokomba van Hottentots-Holland was die beste naelloper en verspringer en het die 100 m-rekord geëwenaar en die verspringrekord vir seuns o.19 met 51 cm verbeter.
PV se Jamial Johnson het die Deon Burger-trofee vir die beste atleet in vier items volgens die ASA-tabel gewen, die medalje vir beste middelafstand-atleet en het die 37 jaar oue rekord in die o.17-1 500 m vir seuns verbeter.
Connor Weston het die 1982-o.15-gewigstootrekord vir seuns met 49 cm verbeter en nog twee Parel Valleiers, Selmarie Erasmus en Geoffrey Collins, het die rekords in die 3 000 m vir seuns- en meisies o.14 verbeter.
Francois Pieterson, Larné Arendse en Jadin Bester van die Hoërskool Strand was die beste hamergooi- en stapatlete en Parel Vallei se Tihanna le Roux (hekkies), Jonathan Knipe (driesprong) en Michaela Birch (spiesgooi) was PV se ander medaljewenners.
Die massa-aflos het groot opwinding opgelewer met PV wat eerste oor die wenstreep is.
PV se seuns- en meisiespanne het onderskeidelik die Peter van der Merwe-skild en die Eb Roelofse-skild asook die Walter Laurie Ko-ed-skild vir die hoogste puntetotaal gewen.
Puik sportmangees en uitnemende atletiek saam met die ondersteuning van die hoofborg, Dis-Chem- Somerset Mall, en elkeen van die honderde beamptes, afrigters, werkers en organiseerders, het weer eens ’n trotse en grootse sukses van 2023 se Dis-Chem-interskole gemaak.



