Drie Parel Valleiers beoefen ritmiese gimnastiek en blink uit in dié sport.
Deré Vermeulen, April Kallis en Mia van der Merwe is verbonde aan Schick, ’n private ritmiesegimnastiekklub, wat aan hul hoofafrigter, Nikki van der Westhuizen, behoort.
Dié leerders het al vele nasionale titels gewen, is al as nasionale kampioene gekroon en Deré het Suid-Afrika ook al by twee internasionale kompetisies verteenwoordig.
Hulle bestee daagliks (van Maandag tot Donderdag) vier uur aan die beoefening van hierdie sport. Hulle het selfs in die grendeltyd nie tou opgegooi nie en steeds hul oefeninge tuis deur Zoom-sessies gedoen.
In Desember 2020 het Deré (vlak 10, in die ouderdomsgroep vir 15-jariges) en April (vlak 8, ouderdomsgroep 15) aan die heel eerste virtuele nasionale kampioenskap deelgeneem. Al twee dié gimnaste is as nasionale kampioene in hul onderskeie vlakke bekroon. Deré het boonop die prys verower as gimnas met die hoogste algehele punt in al die groepe en ouderdomme in Suid-Afrika.
Deré is in Mei benoem om aan nasionale proewe in Klerksdorp vir die Olimpiese Junior-groep deel te neem. Hier het sy meegeding om ’n plek om Suid-Afrika in die Olimpiese Spele in Japan te verteenwoordig. Sy het egter die span met ’n skrale 0,25 punte gemis en is sesde landswyd geplaas.
Dié drie gimnaste het die afgelope maand aan die WP-kampioenskap (beter bekend as Cape Town District) deelgeneem en al drie het wéér uitsonderlik gevaar.
’n Opsomming van hul prestasies:. Deré neem deel in die Olimpiese Spele- junior groep. Sy verwerf die hoogste algehele punt vir die vier roetines waaraan sy deelneem en wen ’n goue medalje. Die hoogste punt is in drie van die roetines aan haar toegeken (ball, ribbon en clubs). In die ander roetine (hoop) is die tweede hoogste punt aan haar toegeken.. Mia neem deel in vlak 6 (o.15). Sy verwerf die hoogste algehele punt vir die drie roetines waaraan sy deelneem en wen daarmee ’n goue medalje. Sy verower die eerste plek in haar vertonings op al drie haar apparate, naamlik free dance, ball en clubs.. April neem deel in vlak 9 (15-plus). Sy verwerf die tweede hoogste algehele punt vir die drie roetines waaraan sy deelneem en wen daarmee ’n silwer medalje. Sy verower ’n eerste plek in een roetine, naamlik ball. In twee roetines (hoop en clubs) behaal sy die tweede hoogste punt.
Al drie gimnaste is in die Westelike Provinsie-span (Kaapstad-distrik) opgeneem om aan die einde van die maand aan die Wes-Kaap-proewe deel te neem.
Indien hulle vir die Wes-Kaap-span gekies word, sal hulle in Oktober, as deel van die Wes-Kaap- ritmiese gimnastiekspan, aan die nasionale kompetisie in Pretoria deelneem.



