Hoërskool Parel Vallei se fietsryspan is Vrydag 7 Junie by ’n “Big-Brag”-geleentheid gemotiveer vir al die uitdagings wat voorlê.
Die fietsryers en hul ouers het die geleentheid bygewoon, wat as wegspringpunt vir die PV-fietsryseisoen dien. Daar is heelwat uitdagings vir ’n fietsryer en die leerders is by dié geleentheid gemotiveer vir alles wat voorlê.
Mariske Strauss, Silverback handelsmerk-ambassadeur, in samewerking met Rola Motors, was die gasspreker vir die aand. Sy het al haar fietsrygeheime en -raad gedeel. As een van Suid-Afrika se topbergfietsryers wat tans oefen vir die 2020 Olimpiese Spele kon daar niemand meer geskik wees om die PV-fietsryspan toe te spreek nie.
Die Parel Valleiers het die volgende dag met spoed weggespring en die fietse se speke by die eerste kompetisie van die Spur se bergfiets-kompetisie vir skole by Southey’s Vines in Somerset-Wes laat sing en algeheel tweede geëindig.
PV se gemengde span is verlede week by die Spur WP Bergfietswedren vir skole eerste geplaas en by Spur se nasionale bergfietswedren het PV vierde in die gemengde kategorie en vyfde in die seuns-afdeling geëindig. In die provinsiale eindronde het ’n Parel Vallei-leerder ook ’n derde plek behaal.



