Parel Vallei se atlete het uitstekend gevaar by die Wes-Kaap-atletiekbyeenkoms wat 8 en 9 Maart in die Dal Josafat-stadion in Paarl gehou is.
Die skool se 12 topatlete het tien medaljes gewen. Dit is die meeste Parel Valleiers wat nóg aan die byeenkoms deelgeneem het. PV het vyf goue, twee silwer- en drie bronsmedaljes gewen.
Die 15-jarige Marietjie Cilliers het die 3 000 m-rekord van die afgelope 15 jaar tot tien sekondes verbeter.
Die medaljewenners is Gerhard Eckley (goud, 10 000 m-stap), Zenade October (goud, 800 m), Marietjie Cilliers (goud, 3 000 m en brons, 1 500 m-hindernis), Courtney Jenniker (goud, driesprong), Zinathi Fukweni (goud, diskusgooi), Jayden Daniels (silwer, 300 m-hekkies), Adam Burger (silwer, hoogspring), Mikhaela Horn (brons, hoogspring) en Lanah Nel, (brons, 3 000 m).
Roux Nieuwoudt, Melissa Hoffman en Lyle Titus het ook die Boland verteenwoordig.
Die Wes-Kaap-atletiekspan wat van 21 tot 23 Maart in Port Elizabeth aan SA’s gaan deelneem, sal die week aangekondig word.



