By Parel Vallei loop die drama letterlik hoog.
Dit was van Donderdag 11 tot Saterdag 13 Mei weer die geval by die Kunstekaap-teater by die Nasionale Toneelspelkompetisie vir hoërskoolleerders. Dié kompetisie word deur kykNET geborg .
Gr. 10-leerder Mia van der Merwe het by dié kompetisie met die louere weggestap terwyl Jordyn Linklater (gr. 12) naasbeste was. Meer as 500 leerders het vir die kompetisie ingeskryf, maar net 60 het deurgedring na da oudisie-ronde in die Kaap.
Thalia Alberts en Stefan le Roux, ook PV-leerders, het ook die top-60 gehaal. Die finaliste het aan verskeie rondes soos die voordra van gedigte, die voer van monoloë, ’n radiodrama-werksessie en -oudisie, ’n TV-sepie-oudisie (Suidooster) en ’n oudisie vir die Woordfees 2018, deelgeneem.
Die top-agt-finaliste moes hul eie temaprogram kreatief saamvoeg. Mia en Jordyn het in hierdie ronde uitgeblink. Benewens die prysgeld en titels waarmee hulle gekroon is, is Jordyn ’n rol in ’n Woordfees 2018-produksie aangebied en Mia het ’n rol in Suidooster losgeslaan.
Stefan is ook gevra om later ’n oudisie vir ’n Woordfees-produksie by te woon.



