“Ek het in 2000 hier as proefonderwyser ingestap wat niks geweet het nie; 26 jaar later sit ek in die stoel as hoof.”
Dís hoe François Fouché (48), die Hoërskool Hottentots-Holland in Somerset-Wes se splinternuwe skoolhoof die volsirkel-oomblik beskryf. Hy is op Donderdag 1 Januarie amptelik by die tradisiebelaaide skool aangestel – opgewonde om nuwe hoofstukke by die ikoniese Helderberg-instelling te skryf voor hulle honderdste verjaarsdag in 2030.
“Ons tema vir die jaar is om groot drome te droom,” verduidelik Fouché.
Maar voordat hy die leerders van HHH kon help om te droom, het hy self begin met ‘n saadjie van hoop.
Die reis het in Paarl begin, waar Fouché as ‘n Boland-seun gebore en getoë is. Ná hoërskool by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch is hy na die Universiteit Stellenbosch, waar hy sy graad in sportwetenskap behaal het, gevolg deur sy onderwysdiploma.
“Ek dink dis in my gene – my ma was ‘n onderwyseres voordat ek gebore is, maar sy was steeds ‘n juffrou by die huis,” verduidelik Fouché oor sy vroeë inspirasie vir onderwys.
Ironies genoeg het sy eerste praktiese onderrig by dieselfde skool plaasgevind waar hy vandag as hoof dien. “Ek dink nie ek was baie ‘n goeie student nie,” sê hy met ‘n giggel, maar daardie ervaring het die fondament gelê vir wat later ‘n merkwaardige loopbaan sou word.
Ná sy praktyk het Fouché ‘n onkonvensionele roete gevolg – eers internasionaal om klas te gee in Engeland en Taiwan, toe terug na verskeie Kaapse skole. Sy loopbaan is selfs onderbreek deur ‘n tydperk waarin hy gestudeer het om ‘n sjef te wees.
“Maar ek het eers in my laat twintigs besef ek wou regtig in die onderwys wees en toe begin ek die onderwysleër klim,” verduidelik hy. Dit was ná ‘n gesprek met sy mentor wat hom aangeraai het om platteland toe te gaan om sy leierskapsvaardighede te ontwikkel.
Die raad het gewerk. Fouché het by die Laërskool De Villiers Graaff in Villiersdorp as skoolhoof gedien, waar hy met sy naby 30 jaar ervaring waardevolle lesse geleer het oor hoe om leerders beter te help. Vandag kyk Fouché anders na onderwys. “Onderwys het verander; ons berei leerders voor vir werksgeleenthede wat nog nie bestaan nie,” verduidelik hy.
In ‘n steeds ontwikkelende wêreld waar onderwysers opgeroep word om meer as net lesse aan te bied, glo hy opvoeders moet anders dink.

Fouché se ambisies vir HHH is drievoudig. Eerstens wil hy die skool se infrastruktuur, wat bykans ‘n eeu oud is, moderniseer. Tweedens wil hy hê die skool moet op die wêreldverhoog in sport deelneem.
“Altesaam 1 462 leerders is in die skool, en dit moet goeie rugby-, krieket-, netbalspelers en atlete insluit,” sê hy terwyl hy ook die uitstekende kultuurprogramme wil uitbou.
Sy derde droom is akademie, hoewel hy nie uitsluitlik op syfers fokus nie. “Hoe fantasties sal dit nie wees as die skool in sy 100 jaar van bestaan ‘n 100%-slaagsyfer behaal nie?” vra hy met ‘n glimlag.
Sy ambisies strek verder as die skoolhekke. “Leerders hoef nie gedwonge op ‘n bus te klim en Stellenbosch toe ry omdat daar beter geleenthede vir hulle by ander skole is nie. Hulle moet dieselfde geleenthede hier in die Helderberg kry,” verduidelik hy.
Hierdie gemeenskapsgevoel is nie toevallig nie – hy sien die kringloop oral om hom, want baie oudleerders is nou onderwysers by die skool.
Fouché sal sy eerste jaar meet aan die nuwe sirkel wat hy begin het. “Die vraag is: het ons in 2026 iets nuuts en anders gedoen as wat in die laaste 96 jaar gedoen is – iets wat vir die volgende 96 jaar ‘n tradisie vir die skool sal wees?” vra hy.




