Die polisiebeampte wat in verband met die Welwillendheidsdag-skietmoord van ’n plaaslike man aangekla is, het hom verlede week weer in die beskuldigdebank by die Somerset-Wes-landdroshof bevind.
Monwabisi Phakani het Donderdag (15 Februarie) weer op onder meer aanklagte van moord in die C-hof verskyn. Die hofverskyning volg nadat die beampte in verband met die noodlottig skietvoorval wat in die vroeë ure van Dinsdagoggend 26 Desember in Somerset-Wes plaasgevind het, in hegtenis geneem is.
Volgens die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) word beweer vier mense – twee mans en twee vroue – het op die R44-pad geloop toe ’n polisievangwa langs hulle stilgehou en die insittende beamptes geëis het om hulle te deursoek.
“Hulle het gehoor gegee, en nadat hulle deursoek is, het die polisiebeamptes gesê hulle moet teruggaan huis toe, maar hulle het verduidelik dat hulle elektrisiteit by die nabygeleë Total-vulstasie wou gaan koop,” lui ’n Opod-persverklaring oor die voorval.
Daar word verder beweer dat die beamptes nie na die groep wou luister nie, al wou hulle net elektrisiteit gaan koop. Een van die polisiebeamptes – na verneem word die beskuldigde – het na bewering sy vuurwapen uitgehaal en op hulle geskiet, en een van hulle is noodlottig gewond, het Opod gesê.
Phakani, wat na bewering die skoot afgevuur het, is deur Opod op aanklag van moord, die onwettige besit van ammunisie en aanranding in hegtenis geneem. Die polisiekonstabel, wat by die Somerset-Wes-polisiekantoor gestasioneer is, is op borgtog vrygelaat en moet weer Maandag 29 April in die hof verskyn.
Die slagoffer van die noodlottige skietvoorval is bekend as die 36-jarige Regon Wildschut van Lourensiapark.
Volgens Louisa “Lilly” Adriaanse (75) het sy aanvanklik met die werklikheid van Wildschut se verlies gesukkel omdat sy uitgeslaap het toe sy die tyding oor die skietvoorval gekry het. “Ek het aanvanklik ná die oproep gaan lê en toe weer opgestaan om die persoon terug te bel voordat ek die pad terug huis toe aangedurf en by die polisiekantoor aangemeld het,” het sy vertel.
Adriaanse het voorts gesê Wildschut het aan ’n skietwond aan die sy beswyk.
Sy het haar hartseer uitgespreek oor die verlies van die geliefde susterskind vir wie sy van babatyd af soos haar eie gesorg het.
“Regon het ook vir ons huishouding gewerk, en die verlies van sy inkomste maak dinge net soveel moeiliker,” het die bejaarde bygesê.
Sy het Wildschut beskryf as ’n rustige, medemenslike man wat sy verantwoordelikhede as werknemer vir die karwassery by ’n plaaslike vulstasie pligsgetrou aangepak het. “Hy was baie geliefd onder sy kollegas,” het Adriaanse gesê.
Volgens ’n kollega word Wildschut onthou as ’n bevoegde werknemer wat nooit gekla het nie en inteendeel altyd ’n oor en ’n bemoedigende woordjie vir ander gehad het. “Hy laat ’n nalatenskap wat gekoester word,” het die kollega gesê.
Wildschut is Woensdag 10 Januarie ná ’n begrafnisdiens in die Ou Apostoliese kerk ter ruste gelê.




