Heel voor (met die fiets in sy hand) is sers. Thabiso Thakuli, met konst. Chester Thomas asook konst. Cheslin Thomas agter hom. Verder agter staan AO Francois Visser. Beamptes van die Somerset-Wes-polisie het met flink optrede twee verdagtes vasgetrek.


Die vlugtige optrede deur polisiebeamptes van Somerset-Wes het daartoe gelei dat twee manlike verdagtes weens ’n gewapende rooftog, waarmee hulle positief verbind is, in hegtenis geneem is.

Polisiebeamptes het gereageer op inligting van ’n rooftog wat Maandag 27 Maart teen omstreeks 08:40 op die R44 naby Somerbosch plaasgevind het.

Volgens sersant Suzan Jantjies, ’n woordvoerder van die Somerset-Wes-polisie, het die slagoffer en sy vrou fiets gery toe hulle met ’n vuurwapen gedreig is voordat hulle van hul peperduur fietse, ’n slim-horlosie en ’n selfoon beroof is.

’n Klagte is kort ná die voorval by die Stellenbosch-polisiekantoor aangemeld en die inligting is met polisiebeamptes van Somerset-Wes gedeel, wat dadelik ondersoek ingestel het.

“Die ondersoek het die span na Macassar gelei, waar een van die vermeende rowers in hegtenis geneem is. Nog ’n verdagte van Macassar is later aangekeer.

“Die een gesteelde fiets is in Khayelitsha gevind en die ander is in Brackenfell opgespoor,” sê Jantjies en voeg by dat die gesteelde items aan ’n speurder in Stellenbosch oorhandig is.

Kolonel Jacolize Fleischmann, die bevelvoerder van die Somerset-Wes-polisiekantoor, het die beamptes vir hul uitstekende werk geprys.

Albei verdagtes is aan Stellenbosch se speurders oorhandig.

“Die verdagtes, wat onderskeidelik 26 en 48 jaar oud is, staar twee aanklagte van gewapende roof in die gesig. Meer aanklagte gaan waarskynlik by hul klagstaat gevoeg word,” sê Jantjies.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article