Die muur van ’n bejaarde inwoner van La Riviera 1 in Strand is voorverlede Maandag (5 September) in die vroeë oggendure omgery.

Credit: SYSTEM

’n Plaaslike bejaarde inwoner het haar misnoeë uitgespreek nadat die polisie ontsettend traag was en eers sewe ure later by die toneel waar ’n voertuig deur haar huis se buitemuur gejaag het, opgedaag het.

’n Motorbestuurder het omstreeks 01:00 Maandagoggend 5 September deur La Riviera 1 in Constantiastraat se kompleksmuur gebars en die polisie het eers sewe uur later by die toneel aangekom nadat die man reeds lankal weg was.

Hendrika Frazer, ’n 80-jarige inwoner van Strand, het vroeg die oggend ’n harde slag gehoor en aanvanklik eers gedink dis donderweer, maar toe sy in haar voorhuis staan, het sy ’n motor in haar voortuin gesien met die bestuurder toe nog agter die stuur.

“Ek het dadelik my pantoffels en my japon gaan aantrek en my na buite gehaas na die man wat nog in die voertuig gesit het,” vertel Frazer.

Haar buurvrou, Olive Oliver was deel van ’n groep inwoners wat die polisie geskakel het om hulle oor die voorval in te lig.

“Ná ure se gebel het ons opgegee en iemand by die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) geskakel, wat op sy beurt onder die polisie gaan vuurmaak het. Die polisie het uiteindelik om agtuur die oggend op die toneel aangekom,” sê Oliver.

Die Strand-polisie het by navraag geantwoord hulle het geen inligting op die stelsel oor dié spesifieke voorval die betrokke Maandagoggend nie.

Herbouwerk aan die stukkende muur het Donderdag 8 September – sowat drie dae ná die voorval – reeds begin.

“Ons moes self ’n wag kry, wat elke aand van sesuur tot die volgende oggend om sesuur voor Hendrika se oop erf kom wag staan het. Nie net moet die muur nou herbou word nie, maar die elektriese heining bo-op die muur moet ook herstel word.

“Die polisie moes vinniger op die voorval gereageer het,” voeg Oliver by.

Sy sê van die gerugte wat die ronde doen, lui die bestuurder was onder die invloed van drank, maar dit kon nog nie bewys word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article