’n Werker by ’n plaaslike winkel in Jan Bruin-straat in Strand en die assistent by die winkel is op 5 Maart omstreeks 10:17 deur twee mans beroof.
Die eerste rower het by die deur bly staan terwyl die tweede een ’n koeldrank gaan kry het. Die rower het toe ’n vuurwapen by die verkoopspunt uitgehaal en die slagoffer se Huawei P30-foon gevat asook die winkelassistent se selfoon. Die rower het ook geld uit die kasregister geneem.
Die polisie vra die publiek om te help om die rowers te identifiseer nadat kringtelevisiekameras die twee tydens die roof afgeneem het.
Indien iemand die twee rowers kan identifiseer, word hulle aangeraai om luitenant-kolonel Franklin Plaatjies by 082 469 3359 of 021 854 9100 te bel.
Adjudant-offisier Nico Beukes, woordvoerder van die Strand-polisie, maan ondernemings om nie te veel kontant op die perseel te hou nie.
“Wees op die uitkyk vir klante wat verdag lyk en moenie die winkel tot laat oop hou nie.
“Moet ook nie laat in die aande alleen in die winkel wees nie,” sê Beukes.
Hy raai ook ondernemings aan om kringtelevisiekameras te laat installeer en om altyd paraat te wees.



