Jonathan Sinden

Credit: SYSTEM

Die gemeenskap van Firgrove is in rou gedompel nadat ’n voorbeeldige tienerseun met ’n blink toekoms sy stryd teen kanker verloor het.

Boodskappe van medelye het die afgelope week op sosiale media ingestroom oor die tragiese verlies van Jonathan Sinden, wat verlede Dinsdag in die hospitaal beswyk het.

Sinden se lewe is slegs dae ná sy 14de verjaardag op 2 Maart en nog voor hy sy hoërskoolloopbaan as Zandvliet-leerder kon voortsit, kortgeknip.

“Ons betuig ons innige meegevoel aan die Sinden-familie in hierdie tyd van hartseer. Die nalatenskap van Jonathan sal voortleef in die harte van almal wat hom geken het. Ons sal altyd sy nagedagtenis vier. Jul seun was ’n pragtige teenwoordigheid in hierdie wêreld. Sy siel het aanbeweeg, maar hy sal altyd by julle wees. Weet asseblief dat ons in hierdie tyd aan julle dink,” het Firgrove Primêre Skool verlede Woensdag (16 Maart) ter ere van sy voormalige leerder op Facebook geskryf.

Die skool het die Vrydagoggend (18 Maart) vir Sinden, wat verlede jaar in graad 7 was, ’n gedenkdiens gehou. Die spesiale byeenkoms was een van twee gedenkdienste wat ter viering van sy lewe en nalatenskap plaasgevind het. Rouklaers het by ’n kerkdiens wat Saterdag by die Christen Gemeenskap Macassar gehou is hul laaste eer aan hom betoon. Sinden is ná die diens veras.

Die jongeling se pleegma, Cathleen “antie Ketta” Ferris het meegedeel dat ’n soort kanker wat die sagte weefsel aanval verlede Oktober by haar geliefde seun gediagnoseer is. Dit nadat hy op ’n dag glo by die skool flou geword het. Hulle het verlede maand (Februarie) deur middel van magnetiese resonansbeelding uitgevind dat die kanker in ’n gevorderde stadium is. Sedert die fase 4-kankerdiagnose het sy toestand drastiese en skielik verswak.

“Hy was altyd moeg, kon nie ver loop nie en moes toekyk hoe sy vriende sonder hom speel,” het die 57-jarige ouer gesê.

“Hy was sedert 15 Januarie permanent in die hospitaal. Verlede Sondagoggend het die dokter by Tygerberg my gebel en gesê ‘dit lyk asof ons Jonathan gaan verloor’. Toe ek later by die hospitaal aankom, was hy baie deurmekaar en ek het gevolglik met hom gepraat, gebid en hom getroos met die feit dat ek Maandag by die hospitaal sal oornag om tyd saam met hom deur te bring.

“Met my aankoms kon ek sien iets is drasties fout en dat hy agteruitgaan. Sy oë het stilgestaan in sy kop en sedert Maandagaand het hy swartgoed opgebring.

“Dinsdagoggend het dinge vererger. Teen 04:00 was sy asemhaling baie flou, en toe ek weer kyk het die hartmonitor waaraan hy vir twee weke gekoppel was, op die kop om 05:00 gaan stilstaan.

“Ek het hom op sy hart geslaan en drie keer hardop geroep, ‘Jonathan!’ en hy het vir ’n rukkie bygekom. Maar, 10 minute later sy heel laaste asem uitgeblaas. Dit ná ’n kort vier maande en twee weke van veg.”

Sy koester die soete herinnering van Jonathan wat in sy swakheid Sondag herhaaldelik aan haar gesê het: “Ek is lief vir antie Ketta, kyk mooi na julle” terwyl hy haar gesig gestreel het. Die ouer, wat ook ’n geskiedenis van kanker het, het voorts meegedeel dat haar reis met Jonathan en sy jonger broer (10) byna vyf jaar gelede begin het. Die twee sibbe het saam met hul oupa in Firgrove gewoon, maar is deur maatskaplike werkers van kinderwelsyn aan haar toevertrou nadat die grootvader siek geword het en later afgesterf het.

Ferris se suster, Felicity Solomons, het gesê “Jonathan was werklik ’n kind reg uit die hemel.

“Hy was altyd plesierig, het altyd gelag en kon nooit kwaad wees of kwaad doen nie. Ek praat hom nie goed nie, hy was goed.”

Sy het voorts gesê Jonathan sal onthou word vir sy vriendelike geaardheid en dat hulle vir altyd die lekker lag-sessies tussen hom en sy broer sal koester.

Solomons het namens haar suster hul dankbaarheid uitgespreek teenoor die skoolgemeenskap van Firgrove Primêr en die Laerskool Macassar, Walking Bus en die breër gemeenskap vir hul liefdevolle ondersteuning.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article