Elise Bishop vertel haar lewensverhaal en oor hoe sy geweet het sy moet eintlik ’n vrou wees.


’n Vrou wat tans in die Strand woon en bekendheid verwerf het as een van die eerstes in die land wat ’n transgender-operasie ondergaan het, het onlangs haar boek vrygestel waarin sy haar lewensverhaal vertel.

Elise Bishop (70) het haar outobiografie genaamd Twee Lewens verlede jaar bekend gestel en die University of the Third Age (U3A) Helderberg se Afrikaanse leeskring was een van die eerste boekklubs in die Strand wat na Elise se storie en dele uit haar boek kom luister het.

Elise, wat soos sy skryf, “in my ander lewe” as Pierre bekend gestaan het, het in 1973 ’n dapper besluit geneem om ’n transgender-operasie te ondergaan om haar liggaam by haar siel en haar binneste te laat pas. Sy het die werklike operasie eers twee jaar later ondergaan, maar in die tussentyd is sy deur keurings en evaluasies.

In Elise se hart moes sy nie ’n man gewees het nie – sy moes ’n vrou gewees het.

Sy het Donderdagmiddag 16 Maart die boekklub se lede by Heritage Manor se klubhuis in Somerset-Wes stories oor haarself, wat sy vir lank in haar binneste saam met haar gedra het, vertel.

“Ek is in Graaff-Reinet gebore en dit was ’n dorpie waar almal alles van mekaar geweet het, en mense was nie juis nydig nie,” onthou sy.

Elise het van kleins af erg onder kinders deurgeloop en is gereeld woorde soos “homo” toegesnou. “Daardie jare was dit taboe om oor seks te praat. Ek het self nie geweet waar ek inpas nie. Ek moes toe my jaar diensplig gaan doen en daar moes ek meeding met forse mans wat gevloek het en ek was só skaam. Ek is wel trots op een ding – ek het nooit op die paradegrond flou geword nie.”

Sy het ’n moeilike pad in die weermag gestap en onthou toe sy die eerste keer hoor hoe ’n geweer afgaan en sy so groot geskrik het dat sy by die naaste tent ingehardloop en haar ore toegedruk het.

“My oupa het vir my ma gesê ‘dié kind gaan deur ’n fase’ en hy het altyd gesê ek sal dit maak, maar ek het nie. Ek het op driejarige ouderdom besef ek is anders. Ek het geweet ek is eintlik as ’n vrou gebore, al het daar iets aan my gehang wat nie daar moes wees nie. Die enigste manier hoe ek werklik ’n vrou sou kon word, is as ek my liggaam verander het, maar ek het nie geweet hoe nie.”

Die eerste keer wat sy soos ’n vrou aangetrek het, het haar groep vriendinne (drie bejaardes tannies in De Aar, waar sy gewerk het) so geskrik dat hulle die teekoppies laat val het toe hulle agterkom dis Elise (wat toe nog Pierre was).

“Daardie jare was homoseksualiteit geheel en al teen die wet. Ek het gedink ek was aangetrokke tot mans, maar die weermag het dit anders bewys en dit was nie die geval nie. Ek was ‘something’ baie snaaks.”

Sy bespreek dit toe met haar baas dat sy nie weet wat met haar aangaan nie, en dié het haar na ’n dokter verwys, wat haar na ’n psigiater gestuur het.

“Volgens die psigiater was ek ‘transseksueel’, en ek het so groot vir die woord geskrik omdat ek nie geweet het wat dit beteken nie. Is ek mal? Want ek ken nie die woord nie.”

Sy het toe gehoor van ene Christine Jorgensen, wat in 1952 in Noorweë dieselfde transgender-operasie ondergaan het as wat sy sou ondergaan.

“Maar hoe gaan ek in Noorweë kom? Dis buite die kwessie. Ek het toe van ’n transseksuele kliniek by die HF Verwoerd-hospitaal in Pretoria gehoor en is soontoe. Die personeel by daardie kliniek was baie empaties. So konserwatief as wat Suid-Afrika was, net so was ons die leiers op die gebied van geslagsverandering,” onthou Elise.

Voor haar operasie het sy elke Dinsdag die kliniek ten volle geklee in vroueklere bygewoon met ’n pruik en al. Later is sy by die werk oorgeplaas na ’n nuwe tak waar sy (al was sy toe nog ’n man) met vroueklere en ’n pruik kon gaan werk.

“Ek is aan almal as ’n vrou voorgestel en het ’n doktersbriefie in my sak gehad as die polisie my dalk voorkeer, want destyds was dit nog onwettig om homoseksueel te wees en vir ’n man om soos ’n vrou aan te trek,” onthou sy.

Sy is in 1975 tot die program toegelaat en ná ’n R36-toegangsfooi is sy vir die transgender-operasie opgeneem, waarna sy ses weke later as volwaardige vrou uitgestap het.

Rina Swart, die voorsitter van die U3A Helderberg- se Afrikaanse leeskring, het gesê Elise was ontsettend dapper om in die jare sewentig ’n transgender-operasie te ondergaan.

“Só ’n operasie was ongehoord en onbekend, om nie eens te praat van die spot en verwerping wanneer jy besluit om van geslag te verander nie. Ek sou eenvoudig moed opgegee en maar aangegaan het met my lewe. Deur dié boek te lees, het ek ook meer geleer wat so ’n operasie behels en hoe jy fisiek verander word. Dit was vir my nuwe kennis en werklik geweldig interessant,” het Swart gesê. . Belangstellendes kan Elise Bishop se boek, wat tans in sy derde drukoplaag is, direk by haar per e-pos bestel. Die e-posadres is egibishop@icloud.com. Lesers kan die boek ook by Hemel en See-uitgewers asook by Wordsworth of Exclusive Books koop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article