Natasha Fick spog met haar nuutste boek, A Mother’s Love – What a Mother Wouldn’t Do as huldeblyk aan haar oudste dogter wat sy weens kanker aan die dood moes afstaan. Deur haar boek bemoedig sy ander ouers en familielede om met mekaar vrede te maak en nooit op te hou bid vir mekaar nie.


Kranige skrywer en bekende radiopersoonlikheid Natasha Fick het in Oktober haar nuutste boek in laaste eer aan haar wyle dogter bekendgestel.

Die 48-jarige moeder se sewende boek, A Mother’s Love – What a Mother Wouldn’t Do dien as ’n hartroerende huldeblyk aan haar eersgebore kind, Caylene wat op 32 haar dapper stryd teen kolonkanker verloor het. Die jong ma van vier dogters is in Mei vanjaar in die mees gevorderde stadium van die siekte gediagnoseer en het Woensdag 24 Julie haar engelvlerke gekry.

“Dit was ’n geweldige beproewing vir ons. Ek het van my werk bedank om na haar om te sien,” het Natasha gesê.

Sy het gesê dat die geleentheid haar opnuut die kosbare kans gebied het om weer om te sien na haar dogter wat sy as tienermeisie in die lewe gebring het en as vier-dae-oue baba moes opgee vir pleegsorg. Volgens Natasha moes sy nie net haar dogter inneem nie, maar saam het hulle tydens die versorgingsproses genesing, vergifnis en vrede gevind. En so handel die boek nie net oor dié reis van genesing wat hulle saam aangedurf het nie, maar die onvoorwaardelike liefde van ’n ma.

“Ten spyte van alles wen die liefde. Hoe ’n ma en kind mekaar weer vind. Wat sy alles sal doen en gee vir haar kinders, maak nie saak hoeveel keer hulle haar seermaak nie. Hoe ons verhouding deur al die lewensuitdagings trotseer het, ons mekaar deur haar siekte kon vind, en ons familie ook weer bande kon smee,” het sy gesê.

Natasha het drie maande gelede die skryfproses voortgesit en kon om een of ander rede net nie klaarkry nie. Sy het toe die besluit geneem om eerder as in Afrikaans, die boek in Engels te skryf en so kon sy nie net makliker haar gevoelens en smart uitdruk nie, maar is die skryfwerk binne twee tot drie weke voltooi.

“Dit was vir my baie moeilik en hartseer om hierdie boek te moes skryf. Dit het my baie ver gevat, tot die dag wat sy gebore was. Ek moes die boek skryf om vrede te maak met die feit dat my dogter nie weer terug kom nie. Ek moes ook self met baie dinge deal. Die dag toe ek die boek uitstuur na die drukkers, skrik ek wakker met die lied, “Now I am free” in my hart en besef in daardie oomblik dat die boek iets was wat ek moes doen om my vry te maak.”

Met haar selfgepubliseerde boek hoop Natasha om die boodskap dat liefde, vergifnis en aanvaarding nodig is, uit te stuur. “Dít bedek menige sondes, maak nie saak wat jou kinders doen nie,” het sy bygevoeg.

Volgens haar kan lesers ook uitsien daarna om inspirasie te put uit die verhaal van hoe die Here ’n dogter teruggebring het nadat sy die huis verlaat het om haar eie pad te volg, nes die verlore seun in die Bybel tot sy sinne moes kom, opstaan en na sy Vader moes draai. “Sommige kere laat die Here toe dat dinge met jou gebeur, om jou nader te bring aan Hom, waardeur vergifnis, liefde, vrede en rekonsiliasie moontlik is,” het sy verduidelik.

Natasha het soos baie ander op ’n jong ouderdom die pad byster geraak. Sy was ’n skoolverlater wat twee tienerswangerskappe beleef en haar tot drank gewend het. Maar, sy het nie toegelaat dat haar omstandighede haar toekoms bepaal nie. Vandag staan sy trots as die karakter van ’n inspirerende ware lewensverhaal van ’n jong meisie wat ten spyte van verkeerde lewenskeuses met ’n Godgegewe tweede kans bo haar omstandighede uitgestyg en sukses behaal het. Sy het haar matriek op 35 jaar voltooi, ’n kwalifikasie in Bybelstudie bekom, en ’n Baccalaureusgraad in teologie verwerf. Vandag dien sy met trots as pastoor, is sy die eienaar van haar eie onderneming, televisieaanbieder en omroeper by die Christelike gemeenskapsradiostasie, Disa FM. Natasha, wat net soos haar dogter ook ‘n ma van vier is, verklap egter dat sy nooit ‘n begeerte gehad het om te skryf nie totdat die skryfgogga haar in 2019 gebyt het tydens die neerpen van haar dagstukkies, wat haar eerste boek, Dagstukkies vir die besige vrou, geïnspireer het (“Jy is nie ’n ‘failure’ nie!,” DistriksPos, 22 April 2021). Sy het hierna haar outobiografie, My Life, My Story – Against All Odds en derde boek Gebede om jou dag mee te begin gevolg (“Fick spog met nuwe boek,” 15 June 2022).

“Die Here is my inspirasie. Hy inspireer my om te skryf, en om wat te skryf, en wanneer om te skryf,” het sy verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article