Houston Etson is Sondagmiddag agter die stuurwiel van sy motor oorlede. Foto:


Die Somerset-Wes-polisie het ’n geregtelike doodsonder­soek geopen nadat ’n jong pa na bewering ten aanskoue van sy seuntjie agter die stuurwiel van sy motor gesterf het.

Die voorval het Sondagmid­dag (13 November) tydens beurtkrag by die Victoria-straat/N2-kruispad plaasgevind en die lewe van die 35-jarige Houston Etson van Paardevlei geëis.

Volgens sersant Suzan Jantjies, woordvoerder van die Somerset-Wes-polisie, het polisiebeamptes omstreeks 14:50 op die voorval gereageer. Jantjies sê ooggetuies beweer dat Etson, die bestuurder van ’n wit Chery Tiggo 4 wat sy vyfjarige seuntjie saam met hom in die motor gehad het, agter die stuurwiel, in verkeer op die hoofroete beswyk het.

“Paramedici wat deur omstanders na die toneel ontbied is, het die bestuurder kort ná die voorval dood verklaar,” sê sy.

Hoewel die doodsoorsaak steeds onbekend is, word beweer dat Etson nie goed gevoel het nie en vermoedelik weens natuurlike oorsake beswyk het.

Volgens ’n naasbestaande was die oorledene en sy seuntjie van Garden Village op pad na sy ouerhuis in Paardevlei waar hy saam met sy ma gewoon het.

Hy het uit Rose-straat regs in Victoriastraat gedraai en in verkeer gewag voor die noodlot getref het. Die motor het in die voorval glo liggies teen die agterkant van ’n minibustaxi gebots.

“ ’n Verbyganger het die seuntjie sien sukkel om sy pa by te bring en dié goeie samaritaan het daarin geslaag om familie van die kleuter in Garden Village op te spoor,” vertel die naasbestaande.

Die naasbestaande het verder meegedeel dat Etson in Macassar gebore is en as deel van ’n hegte familie oorspronklik in Sir Lowry’s Pass grootgeword het.

Hy het sy skoolloopbaan by Danie Ackermann Primêre Skool voortgesit en aan die Hoërskool Gordon gematrikuleer. Ná skool het Etson hom as ’n tekenaar bekwaam.

“As volwassenes met ons eie lewe het ons mekaar nie baie gesien nie. Maar, ons het onlangs by ’n familiesaamtrek by Knorhoek lekker saam gekuier en bande van ’n familie wat slegs ’n oproep ver is en in tye van nood vinnig inspring en saamspan, versterk,” voer die naasbestaande aan.

“Hy sal onthou word as ’n vriendelike, behulpsame jong man wat behep was met fiksheid en gesondheid en sonder uitsondering die regte ding gedoen het, al was dit nie altyd volgens sy wense nie.”

Etson se ouer suster, Natalie, sê die familie sukkel om tot verhaal te kom en woorde ontbreek om haar geliefde broer se menswees te beskryf.

“Soveel ander kan getuig dat hy hardwerkend, liefdevol en vreugdevol was,” sê sy.

“Hy het gelewe vir sy twee seunskinders en as pligsgetroue werknemer wat trots was daarop dat hy altyd betyds was vir werk, praat kollegas met lof van hom.”

Etson word oorleef deur sy ma (65), twee susters, 39 en 30, en twee seuns, 12 en vyf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article