Georgina Smit (links), hoof van tegnies vir GBCSA, oorhandig die Rising Green Star-toekenning aan Mellissa Titus, ’n inwoner van Somerset-Wes. Foto: Anthea Davison/idna/GBCSA


Die 2024 GBCSA Leierskapstoekennings is verlede week tydens ’n gala-geleentheid by die Green Building Council South Africa (GBCSA) se 17de Green Building-konvensie by die Century City-konferensiesentrum in Kaapstad oorhandig.

Onder diegene wat die aand vereer is, was die Somerset-Wes inwoner Mellissa Titus van Independent Quality Assurers, wat die Rising Green Star-toekenning ontvang het vir haar beduidende bydrae tot die groen boubedryf.

Die geleentheid het die top rolspelers in volhoubaarheid in die geboude omgewing byeengebring onder die vaandel “Zero+: Net Zero Today, Climate Positive Tomorrow”, die tema van vanjaar se konvensie.

By die openingsplenum het GBCSA se hoof van tegnies, Georgina Smit, die eksponensiële groei in die aanvaarding van groen boupraktyke in die afgelope dekade geïllustreer: “Daar is ’n duidelike en toenemende vraag na groen bousertifisering oor Green Star, EDGE en Net Zero, met naby aan 1 300 sertifiserings tot op hede, en dié getal neem steeds toe.”

Met ’n grafiek wat die groei voorstel, het sy verduidelik dat 2009 die jaar was toe die eerste sertifisering toegeken is. Teen 2014 was daar 76 voltooi, en teen 2020 het die getal skerp gestyg tot 647. In die vier jaar wat gevolg het, is meer as 600 verdere sertifiserings toegeken, met die getal wat nou op 1 260 staan, en steeds styg.

“Daar is net meer as 15 000 EDGE finaal gesertifiseerde wooneenhede in die mark, met nog ongeveer 65 000 op pad om groen huise vir Suid-Afrika te ondersteun, insluitend die bekostigbare behuisingsmark. Green Star Existing Building Performance beïnvloed reële tyd emissies, en daar is 65 Net Zero projekte wat die oplossings en kundigheid toon om klimaatsaksie in die eiendomssektor op te skaal.”

“Om groen te gaan behoort nie ‘n raaiskoot te wees nie, en die navorsing toon dat die groen premie nie net minder is as wat verwag is nie, maar dit bly daal – wat volhoubare keuses meer toeganklik en haalbaar maak, vir almal,” sê Smit.

Die konvensie het afgesluit met voormalige uitvoerende hoof van Eskom, Andre de Ruyter, wat oor die Regverdige Energie-oorgang gepraat het.

Vir meer inligting oor die Green Building Konvensie, besoek www.gbcsaconvention.org.za en www.gbcsa.org.za vir verdere inligting oor die werk van die GBCSA.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article