’n Inwoner van Gordonsbaai wat vir 10 weke lank haar hart uitgeskryf het vir ’n dig-kompetisie en uiteindelik die vierde plek behaal het, was in ’n stadium 18de – en niemand het gedink sy sou die top-10 haal, om nie eens van die top-5 te praat nie.
Deirdre Jonker (59) het aan die Diggroep vir Beginners en Begaafdes se skryfkompetisie deelgeneem, wat onder dieselfde naam op Facebook aangebied is.
Jonker moes vir 10 weke elke week ’n ander gedig skryf, wat aan sekere vereistes moes voldoen.
Hierdie is die 10de dig- en skryf-kompetisie wat op die Diggroep vir Beginners en Begaafdes se Facebook-blad onder die borgskap van Forever Diamonds and Gold en Die Waarheid Media aangebied is.
“Ek moes elke week my gedig-opdrag voltooi en voor Sondagaand 20:00 instuur, en dan moes ek weer van voor af begin met ’n nuwe gedig en ’n nuwe opdrag.”
Sy het voor die kompetisie vyf jaar laas geskryf en beskryf die skryfproses gedurende die 10 weke as terapie.
’n Groep digters – 30 altesaam – is van Donderdag 18 tot Sondag 21 Augustus by Sun City onthaal en vermaak en alle onkostes, wat verblyf en vliegkaartjies ingesluit het, is deur die borge betaal.
“Dit is heel moontlik een van die grootste Afrikaanse dig- en skryfkompetisies in die land. Ek het die vierde plek in die begaafde afdeling verower,” sê Jonker.
Haar gunstelinggedig was een wat sy geskryf het oor die mishandeling van vroue in die samelewing en wat die gedig vir haar so spesiaal gemaak het, is die feit dat sy ’n “We Women of Change”- ambassadeur is.
“Die vierde plek het vir my soveel betekenis, want dit het my weer my waardigheid teruggegee. Dit het my laat glo ek kan.”
Volgens haar is digters ook akteurs, want hulle moet hulself kan bevind in ’n sekere situasie of tyd en dan perfek kan beskryf wat alles in daardie tyd of plek gebeur.
Sy is nog lank nie klaar geskryf nie en berei voor vir ’n kompetisie wat eersdaags weer deur die Diggroep vir beginners en begaafdes aangebied word.



