“Wees goed vir jouself!” sê die pasgegradueerde Hugo Uys, wat ook die gesogte Kanseliersmedalje by die Universiteit Stellenbosch se Desember-gradeweek ontvang het.
Die medalje is die eerste keer in 1961 ingestel. Die universiteit ken jaarliks slegs een Kanseliersmedalje aan ’n finalejaar- of nagraadse student toe wat nie net akademies uitgeblink het nie, maar ook op verskeie maniere tot die kampuslewe bygedra het en hard gewerk het om ko-kurrikulêre eienskappe te ontwikkel.
Uys, ’n gegradueerde van die fakulteit lettere en sosiale wetenskappe, het sy BA-honneursgraad in filosofie cum laude behaal, met ’n finale punt van 90%. Hy is ook tans ’n student aan die fakulteit regsgeleerdheid. ’n Versoek om sy LLM na ’n LLD om te skakel, is ook ingedien.
Dié boorling van Somerset-Wes en ’n oud-leerder aan die Hoërskool Parel-Vallei het oor die toekenning gesê sy resep vir sukses is eenvoudig – wees goed vir jouself. “Ons is as studente soms streng met onsself. Jy verdien dit om jouself met liefde en begrip te benader.” Volgens Uys het sy ondersteuningsgemeenskap ook tot sy akademiese reis bygedra.
“Jy is net so sterk soos jou ondersteuningstelsel. Ek het ongelooflike mense om my – my familie, my akademiese studieleiers, my mentors en my vriende. Ek kon dit nie alleen gedoen het nie. Dit verg ’n dorpie.” Hy sê sy ma – wat hom as enkelouer grootgemaak het – is sy grootste inspirasie, terwyl hy ook deur die talle akademici by die US geïnspireer is.
Akademiese loopbaan
Uys spog met ’n buitengewone akademiese loopbaan: Hy het in 2021 sy LLB cum laude aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Sedert 2022 is hy by die fakulteit regsgeleerdheid ingeskryf vir ’n LLM-graad (deur navorsing). Hy is ook sedert 2018 ’n student by die fakulteit lettere en sosiale wetenskappe.
Nadat hy twee jaar voorgraadse filosofie as keusemodule vir sy vier jaar lange voorgraadse LLB-kursus voltooi het, het hy besluit om filosofie as ’n bykomende voorgraadse hoofvak te neem deur in 2020 en 2022 vir bykomende niegraad-modules in filosofie te registreer.
Nadat hy dit suksesvol voltooi het, het hy in 2023 toestemming van die Senaat verkry om gelyktydig vir sy LLM in die regsfakulteit én vir ’n BA Honneurs (filosofie) in die fakulteit lettere en sosiale wetenskappe te registreer.
Hierdie versoek is toegestaan op grond van Uys se uitstaande akademiese geskiedenis, terwyl hy ook bewys gelewer het dat hy oor die vermoë beskik om ’n balans tussen kurrikulêre, ko-kurrikulêre en buitemuurse verpligtinge te handhaaf.
Benewens sy uitstaande akademiese prestasies was Uys betrokke by verskeie kampusprogramme en -inisiatiewe. Hy was die hoofregter van die Universiteit Stellenbosch se studentehof, asook voorsitter van die voorgraadse regsvaktydskrif, wat deur studente bestuur word, en het as navorsingsassistent by die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in eiendomsreg gewerk. Hy was ook die kursussameroeper vir die kortkursus vir regsskryfontwikkeling.
Hy is die medestigter van Iphepha for Pupils, ’n organisasie sonder winsbejag, wat werk om skoolbenodigdhede aan laer- en hoërskoolleerders, wie se toegang tot skoolopleiding deur ’n gebrek aan die nodige hulpbronne bedreig word, te herversprei.



