Die Höerskool Strand Matriekklas van 1966 is onlangs die Vryheid van Hoërskool Strand op Woensdag 13 April toegeken tydens ’n spesiale saalbyeenkoms en as deel van hulle 50-jarige re-unie.
Hierdie besondere eer is aan die pioniersklas van die skool toegeken vir die unieke bydrae wat die klas, as eerste matriekklas van Hoërskool Strand, tot die geskiedenis van die skool bygedra het. ’n Oorkonde, wat nou in die voorportaal pryk, is aan die oudleerders oorhandig, en elkeen het ’n replika daarvan ontvang.
Tydens ’n buitengewone saalbyeenkoms waar die huidige graad 12- en graad 8-leerders van die skool teenwoordig was, is die toekenning deur die huidige hoof van die skool, Christiaan Klopper, aan Piet du Toit oorhandig.
Die groep oudleerders was in die eerste graad 8-klas (toe standerd 6 genoem) van die skool. Die skool het aan die begin as Hoërskool Valsbaai bekend gestaan, maar nadat daar bevind is dat daar reeds ’n skool met dié naam bestaan, is die skool as Hoërskool Strand geregistreer.
Aangesien bouwerk aan die skoolgebou in Sarel Cilliersstraat op daardie stadium nog nie eens begin het nie, is die perseel wat tans die Ruimte Nasorg en Pikkewouters Kleuterskool in Millsstraat 96 huisves, as skoolgebou gebruik. Met 97 leerders, vier onderwysers en ’n skoolhoof is die fondament gelê vir hierdie skool wat tans 1 140 leerlinge en ’n personeel van meer as 60 leerkragte huisves. Vanaf 1962 as “Standerd 6- klas”, tot hulle Matriekjaar in 1966, was hulle die “senior klas” van die skool.
Onder die 18 oudleerders teenwoordig was onder andere Elize du Toit (nee van Wyk) en Tertius Walters, wat saam die skool se leuse van “Volhard en Oorwin” geskep het, Piet du Toit, wat in graad 9 die eerste hoofseun van die skool was, en Alwyn Smit wat drie agtereenvolgende jare, van graad 10 tot matriek, die skool se hoofseun was.
Die besonderse 50 jaar reünie het met die toekenning van die Vryheid van Hoërskool Strand afgeskop, waarna die groep na die Ruimte Sentrum vertrek het, waar die skool in 1962 begin het. Daar het hulle deur die kleuterskool gestap en ou herinneringe opgeroep tussen die kleuters. Die Kleuterskool is die besigheid van, en die gebou word tans ook besit deur, Piet en Elize du Toit, twee van die matriekleerders van die “Klas van ‘66”.
Die groep is hierna na die Lourensford Wynlandgoed waar ontbyt saam met hul gades genuttig is en waarna hulle ’n wynproe-geleentheid bygewoon het.
Nadat hulle die aand met ’n toer van die skool deur een van die huidige onderwysers, Esther Loedolff, begelei is, het hulle die hoofgeleentheid in die sportsentrum voortgesit. Hier is ou herinneringe weer opgeroep. Hoe hulle, toe die skool twee grade moes huisves en die skoolgebou nog nie voltooi was nie, in twee skofte moes skoolgaan. Hoe hulle as graad 8- en 9-leerders self die banke vanaf Millsstraat gedra het om ’n halfklaar skool in Sarel Cilliersstraat te betrek. Hoe hulle self die gras agter die skool geplant het, ingespan is voor rollers en ploeë om grond gelyk te maak, die bome voor die skool geplant het, en deur bou-geraas en hamerslae moes deurworstel terwyl bouwerk aan die skool voltooi word.
In sy verwelkoming tydens die ete het Alwyn Smit, hoofseun van Hoërskool Strand in 1966, die skool bedank vir die groot eer aan hulle bewys met die toekenning van die Vryheid van Hoërskool Strand. Hy het spesiale vermelding gemaak van, en sy gelukwensing namens almal oorgedra aan Klopper, sy personeel en leerders van die skool, met die dissipline in die saal tydens die oorhandiging en veral die “heldeontvangs” wat hierdie pioniersklas van die skool ontvang het.



