“Nou gaan jy my laat huil,” sê ’n bedroefde Deoné van Loggerenberg in reaksie op die vraag hoe sy haar seuntjie ewig sal onthou.
Terwyl trane in haar oë opwel, haal die 27-jarige ma, wat haar seuntjie in die feestyd aan ’n vlammedood afgestaan het, eers diep asem terwyl sy na die letsels aan haar gebrande arms en hande kyk en moed skep. “Hy was die stoutste dog vriendelikste seuntjie nog,” spring sy tussen die trane deur weg terwyl ’n hartseer glimlag op haar gesig verskyn.
Volgens Deoné was haar geliefde Marko, wat Donderdag 7 Desember in ’n tragiese huisbrand by Pinksterpark in Somerset-Wes dood is, ’n woelige seuntjie wat nie in die pad geloop het nie, maar gehardloop het. Hy het geweet hy mag nie vloek nie en het vingerswaaiend met die woorde “jou man!” vermaan.
Hierbenewens was hy ’n sprankelende, borrelende vierjarige wie se lyfie-drukkies en energie veral gemis word.
DistriksPos & Helderberg Gazette het voorheen berig oor die tragedie wat dié Donderdag in die vroeë oggendure by die behuisingskompleks op die hoek van die N2-snelweg en Mondeorweg afgespeel het (“One dead, two injured in blaze,” 13 Desember 2023). Die woning, wat uit hout en asbes bestaan het, is in die brand in puin gelê en Marko het engelvlerkies gekry. Die kleuter se ma sterk aan nadat sy uit die brandende woning gered is en die voorval met beserings en brandwonde oorleef het.
Rouklaers, onder wie familie en geliefdes, het hul laaste eer Saterdagoggend (13 Januarie) tydens ’n diens ter viering van die peuter se kosbare lewe betoon. Die roudiens is by die AGS Helderberg-gemeente by Pinksterpark gehou, en volg nadat die brandslagoffer se lykie voorverlede Woensdag (3 Januarie) van die lykshuis teruggekry en veras is.
Volgens Deoné en haar 57-jarige pa, Deon, wat oorkant die straat van mekaar in Pinksterpark gewoon het, is die oorsaak van die brand steeds onbekend.
Deoné het die tragedie met die koerant se besoek aan haar suster se woning in Bettiesbaai, waar hulle tans woon, herroep. Die ouer, wat by ’n kuierplek werk, het vroeg daardie oggend ná ’n nagskof teruggekeer. Haar pa het na Marko omgesien voordat hy met haar aankoms huis toe is.
‘Ek het net vlamme gesien’
“Ek het my karsleutels, waaraan my huissleutel is, aan my pa gegee, want as hy later die oggend moet ry, hoef hy my nie wakker te maak nie. Ek en Marko het op die sleeper couch in die sitkamer geslaap toe ek wakker geword het weens die kat wat op my gespring het. Toe ek my oë oopmaak, het ek net vlamme gesien,” vertel sy swaar ondanks die rookinaseming wat haar bors erg aangetas het.
“Ek het aanvanklik badkamer toe gehardloop omdat ek geweet het die venster is oop en het gehoop om die diefwering uit te slaan sodat ek Marko uit die brandende huis kon kry. Maar, my pogings het misluk.”
Deoné meen sy kan nie alles onthou nie, maar sy het toe met Marko op haar heup na die geslote voordeur gehardloop.
“Ek het ’n spaarsleutel op die yskas, maar op daardie oomblik en met al die rook was dit die laaste ding waaraan ek gedink het. Ek het die perspex-ruitjie in die voordeur uitgeslaan en om hulp gegil. Dis toe dat my pa opgedaag en my na veiligheid gehelp het. Maar toe was my seuntjie nie meer met my nie.”
Volgens Deoné het Marko histeries begin huil toe sy nie die badkamervenster se diefwering kon uitbreek nie.
Sy vermoed hy het in die gesukkel weens die erge hitte in die oopplan-huisie, hoë vlamme en pikswart rook skuilplek gesoek, omdat sy lewelose liggaampie blykbaar onder ’n bed aangetref is.
Deon onthou hy het weens ’n geskree wakker geword. “Ek het gedog dis seker weer ’n inbraak, omdat Pinksterpark-inwoners in die laaste tyd deur inbrekers geteiken word. Ek het opgevlieg met die karsleutels in my hand. Buite het ek die rook gesien wat uit my dogter se huis getrek het en besef dis haar plek wat brand. Ek het onmiddellik na die deur toe gehardloop en haar bevry. Ek het die arme kat, wat vol gate gebrand is en net daar gelê het, gegryp en hom ook uit die brandende huis gegooi. Ek het toe na haar gedraai en gevra waar Marko is, maar die huis het gebrand dat die biesies bewe en die hitte was net te erg om terug te draai vir hom.
“Ons het meteens besef dis te laat; heeltemal te laat.”
geen water, brandbestryding
Brandbestryders het om 06:30 op die noodoproep van ’n woning wat brand, gereageer en die vlammehel teen 07:20 geblus.
Deoné het eerstegraadse brandwonde aan haar skouers en arms opgedoen. Sy moes haar hare afskeer omdat dít ook geskroei het. Sy het ook letsels aan haar hande soos sy tydens haar ontsnappingspogings beseer is. Sy het tot vandag toe nog nie vingerafdrukke nie.
Volgens die pa en dogter het die voorval die kollig opnuut op veiligheidsmaatreëls by Pinksterpark geplaas. “Daar is niks water nie en geen brandbestrydingtoestelle nie. Daar is glo ’n watertenkertjie op die perseel, maar inwoners het in ’n noodgeval nie toegang daartoe nie,” beweer Deon, wat byna twee jaar gelede teruggetrek het Pinksterpark toe, waar sy dogter grootgeword en die afgelope ses maande gewoon het.
“Daar is geen munisipale water aangelê nie, en hoewel daar water in die krane is, is daar geen waterdruk nie.”
Deon beweer ook dat die huise se bedrading pla en moontlik die oorsaak was van die brand wat sy kleinseun geëis het.
“Daar moet na ons jong- en oumense wat in Pinksterpark woon, omgesien word. My 86-jarige ma woon ook daar. Die bejaardes kan hulself nie help nie. Veiligheidsmaatreëls moet ernstig bekyk en verskerp word. Daar móét mense wees wat in ’n noodgeval kan optree,” sê Deon.
Volgens die inwoner is Pinksterpark op grond van die AGS-gemeente, wat deur ’n trust wat aanvanklik deur sowat 44 gemeentes gevorm is, bestuur.
Die huise is die gesamentlike eiendom van die trust en word na bewering op voorwaarde van kerklidmaatskap en ander kriteria vir goedkeuring aan inwoners verhuur.
Die koerant het die Pinksterpark-bestuur genader om kommentaar en die trust-sekretaris, Dawid Combrinck, het gesê: “Ná beraadslaging het die trust besluit om eers ’n verklaring uit te reik nadat ons die forensiese verslag van die polisie ontvang het. Tans wag ons nog vir die verslag.”
Deoné het die brandweer vir hul blitsvinnige optrede asook die gemeenskap se liefdadigheid en ondersteuning in hul tyd van nood bedank.




