Die driejarige Micah Henry terug by die huis en op die plek waar hy op sy gelukkigste is – op sy mamma se skoot en in haar arms. Foto: Jamey Gordon


Dít is waarvoor ’n moeder van Strand hoop nadat haar seuntjie wonderbaarlik ’n byna-verdrinking oorleef het.

Dié voorval het hom verlede Sondag (30 Junie) by hul woning in die Southfork-gemeenskap afgespeel en die driejarige Micah Henry se oorlewing word as ’n wonderwerk bestempel. Die klein vegter sterk nou tuis aan nadat hy Woensdag (3 Julie) uit die hospitaal ontslaan is.

Sy ma, Lithe, vertel dat ’n rustige middag van samesyn met familie en vriende vir hul gesin byna in die grootste nagmerrie ontaard het toe die peuter deur sy 11-jarige sussie in die swembad aangetref is.

“Ons het in die agterplaas gebraai. Ek het besig geraak met die kos. Micah was onder die kinders wat in en rondom die huis saam gespeel het,” onthou sy.

“Net toe ons later wou loop, vra ek my dogter om te kyk waar Micah is, want ek sien hom nie. Toe hoor ek haar gil.”

Volgens die ouer het sy onmiddellik uitgehardloop en op ’n hartverskeurende prentjie afgekom.

“Ek het geskreeu ‘die kind is in die water!’ en na my man geroep, wat reeds buite in die straat was,”

het ’n emosiebelaaide Lithe met ’n stem wat breek gesê.

Sy vertel voorts dat haar dogter Micah met die hulp van ’n ander bystander uit die water gehaal het.

Danksy die flink reaksie van naasbestaandes en gemeenskapslede, insluitend ’n ramprisikobestuur-vrywilliger en paramedikus, sowel as hospitaalpersoneel wat dadelik tot reddingsaksie oorgegaan het, het die seuntjie wonderbaarlik ’n tragiese waterdood vrygespring.

Volgens Faeez Rhoda het sy 19-jarige seun, Ameer Suhail, wat as vrywilliger vir die Stad Kaapstad se ramprisikobestuur dien, op die voorval gereageer en hom na die toneel gehaas. Rhoda werk al langer as twee dekades as paramedikus en is deur ER24 aangestel. “Met my aankoms op die toneel was my seun besig met kardiopulmonêre resussitasie (KPR). Saam het ons ongeveer 50 minute lank KPR toegepas en ook ’n sakklepmasker (BVM) gebruik om suurstof in die seun se longe te kry voordat ander hulpbronne en nooddienspersoneel opgedaag het,” het Rhoda gesê.

“Dit is ’n gevoel wat jy eenvoudig nie kan beskryf nie wanneer jy voel en hoor dat jou pasiënt weer asemhaal. Dit is so skaars om spontane sirkulasie (ROSC) terug te kry by iemand wat byna verdrink het en ongeveer 15 minute onder water was, om nie eens te praat van ’n driejarige nie.

“In my 20-plus jare as ’n paramedikus het dit nog net drie keer met my gebeur waar ’n kleuter van ’n byna verdrinking oorleef het.”

Kritiek

Jermaine Carelse, ’n woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, is personeel omstreeks 17:35 na die toneel ontbied.

“ ’n Span van die Strand-brandweerstasie het om 17:45 op die toneel aangekom en ander mediese personeel bygestaan,” het hy gesê. “Die toestand van die manlike minderjarige was kritiek en hy is per ER24-ambulans na die hospitaal vervoer.”

Micah is in ’n kritieke toestand in die Tygerberg-hospitaal opgeneem, waar hy op lewensondersteuning geplaas is.

Mediese personeel het oor die drie dae wat gevolg het, alles in hul vermoë gedoen om hom aan die lewe te hou.

“Micah se toestand het verbeter, met tekens dat sy breinreaksie sterk is. Die dokters het hom Maandag 1 Julie van die ventilator afgehaal en hy het self asemgehaal,” het Lithe gesê.

Hoewel daar nie tekens van breinskade is nie, het dokters Lithe gewaarsku dat Micah dalk nie dieselfde sou wees nie, maar ten spyte van ’n bietjie aanvanklike verwarring, is Micah ’n prentjie van gesondheid.

Met DistriksPos & Helderberg Gazette se besoek aan die familietuiste Maandagmiddag (8 Julie), het hy met ’n hartlike glimlag gespog. Hy was ooglopend bly om met sy gesin herenig te wees – ’n tipiese seunskind wat gespeel en gelag het.

Op ’n vraag hoe sy voel dat haar bulletjie die voorval oorleef het en weer onder haar vlerk is, het Lithe haar blydskap uitgespreek. “Ek het nog nooit so hard gebid nie. Ons is dankbaar vir elke dag saam met hom en hoop vir sy volkome herstel,” het sy aangevoer.

Lithe het verder gedeel dat haar seuntjie, wat die tweede jongste van vyf kinders is, net te lieflik is. “Hy is praterig, hou van speel en buite wees, en is op en af in die huis – nes ons hom ken.”

Bly

Lithe het haar opregte dankie uitgespreek aan ’n ieder en ’n elk wat hulle te hulp gesnel en bygestaan het.

Rhoda het ook sy blydskap dat Micah op die herstelpad is, uitgespreek.

“Ek was so bly; die trane het oor my gesig geloop. Daar is baie redes waarom mense in nooddienste werk, en dit is waarom ek gekies het om in hierdie bedryf te werk – om ’n verskil in mense se lewe te maak; om altyd daar te wees wanneer iemand in die gemeenskap wat siek of beseer is, hulp nodig het. Solank as wat ek kan help en ’n verskil kan maak, sal my passie vir my beroep vurig brand.”

Hy het ook klem gelê op die waardevolle les wat ander uit dié voorval kan leer en ’n beroep gedoen op mense met ’n swembad om bewus te wees van die risiko’s, gevare en verantwoordelikhede wat daarmee gepaardgaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article