’n Misdaadvoorkomingsgroep in Strand het ’n versoekskrif opgestel nadat hul gesien het hoe misdaad in verskeie woonbuurte toeneem.
Dit kom terwyl daar glo speelgoedvuurwapens, vuurwerke (klappers) en sigarette aan minderjariges in die omgewing verkoop word en hulle agtergekom het dat die verkoop van dié artikels en misdaad waarskynlik verband hou met mekaar.
Brendyn Alloys, ’n gemeenskapsaktivis wat betrokke is by die nuut gestigte Active Citizen Crime Prevention Forum Whatsapp-groep, het besluit om ’n versoekskrif op te stel om aandag op die kwessies te vestig.
“Ons gemeenskap gaan gebuk onder bendegeweld en onwettige vuurwapens en ammunisie wat tot noodlottige skietvoorvalle lei. Ons observasies is dat baie ouers steeds vir hul kinders speelgoedvuurwapens koop en die ondernemings in ons woongebiede speelgoedvuurwapens, klappers en sigarette aan minderjarige kinders verkoop,” sê Alloys.
Hy vertel dat hulle die plaaslike owerhede wil nader om die “onverskillige besigheidspraktyke te stop” en om ouers bewus te maak van die negatiewe impak wat dié artikels op die kinders se gedrag het.
Hy brei uit dat die versoekskrif verder die belangrikheid van veiligheid beklemtoon en waarom die goedere nie aan minderjariges verkoop moet word nie.
“Die samekoms van minderjariges by spaza-winkels waar gerook en gedobbel word moet ook gestop word,” sê Alloys.
“Deur die verkoop van sigarette, speelgoedvuurwapens en klappers aan die jongelinge te verbied kan ons dalk bydra tot die vermindering van wapengeweld en misdaad in geheel.”
Volgens Alloys sal die versoekskrif aan die munisipale bestuurder oorhandig word sodra genoeg handtekeninge ingesamel is.



