‘n Motorbestuurder, Sandla Hele, is op die R300 gestrand nadat rowers hom van sy Volkswagen Polo en besittings beroof het

’n Motorbestuurder wat vervoerdienste aanbied, is op die R300 gestrand gelaat nadat rowers hom en sy Volkswagen Polo-voertuig glo gekaap het. Die rowers se planne het egter skipbreuk gely toe die motor sonder petrol gaan staan het.

Volgens die Macassar-polisie het die bestuurder, Sandla Hele (35) op Dinsdag 21 Januarie omstreeks 14:00 ’n versoek aanvaar vir ’n rit van Athlone na Grabouw. Hy het drie passasiers – twee mans en ’n vrou – op die Kaapse Vlakte opgelaai.

Die rit het die N2 in die rigting van Somerset-Wes gevolg.

Net voor ’n bekende vulstasie in Macassar het een van die passasiers ’n mes uitgehaal en Hele gedwing om die voertuig te stop en agter in te klim. Hele was toe tussen die twee ander passasiers vasgekeer, terwyl die derde passasier agter die stuurwiel ingeklim het.

Die verdagtes het met Hele in die voertuig na die Macassar-weg-oprit gery en via Firgrove in die rigting van Eersterivier beweeg. Hul planne het egter ontspoor toe die voertuig op die R300 weens ’n leë petroltenk tot stilstand gekom het.

Die groep het daarna Hele van sy selfoon, kontant en beursie beroof voordat hulle gevlug het. Hy sê hoewel hy steeds aan skok ly, is hy dankbaar om ongedeerd te wees.

“Maar ek vaar goed,” het hy gesê en ’n gebaar met sy duim maak.

Die Macassar-polisie ondersoek tans twee sake van ontvoering en roof. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie. Enigiemand met inligting word versoek om die polisiekantoor by 021 857 7100 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article