Dit is hartseer om te moet lees van die mesaanval op Marius Roets in Bridgewater (Man oorleef mesaanval in SW, DistriksPos, 26 Januarie).

Die parkie in Strubenstraat was al die jare oop gewees, sonder enige heining, en dinge was oor die algemeen redelik vreedsaam (“‘Oop’ parkie bly ’n kopseer”, DistriksPos, 2 Februarie). Die parkie is immers eers ’n paar jaar gelede omhein.

Die probleem het gekom toe die haweloses hul intrek geneem het in die berugte huis in Bellonastraat, nie ver van Strubenparkie nie. Die tragedie wat daar aan die gang is, sal bekend wees aan die gereelde lesers.

Die brug by die historiese “Old Bridge” is ook nou weerskante van die pad beset deur ’n groeiende groep uitdagende haweloses. Vreedsame voetgangers wat albei oorgange oor die Lourensrivier gebruik, word gereeld gedreig of beroof.

Sekerheidsdienste en die polisie is wel bewus van die kriminele elemente wat daar skuil.

Op plaaslike vlak is die verkose leiers duidelik onbevoeg en / of onwillig om iets daadwerkliks, benewens natuurlik lippediens, aan die saak te doen. Om dus die oop parkie as die “kopseer” uit te lig, is nie waar die fokus moet lê nie.

Willem Bester,

BRIDGEWATER

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article