Die o.19A-rugbyspan van die Hoërskool Parel Vallei (PV) het te midde van reënerige en uitdagende toestande ‘n kragtige vertoning gelewer vir ‘n 20-10-oorwinning oor die Hoërskool Pearson in hul jaarlikse interskole-uitruil op plaaslike bodem te verseker.
Die wedstryd was van begin tot einde ‘n uitputtende stryd, met albei spanne wat fisiek en vasberade gespeel het. Die besoekers van Gqeberha het sterk begin en PV onder druk geplaas, maar die tuisspan se onwrikbare verdediging en doeltreffende aanvallende spel het uiteindelik die deurslag gegee. Hierdie oorwinning – hul tweede agtereenvolgende triomf in die uitruil – het Parel Vallei se veerkragtigheid, dissipline en vasberadenheid beklemtoon. “Dit was ‘n oorwinning wat op karakter en toewyding gebou is.”
Ondersteuners het die span se moed in moeilike toestande geprys.
Die uitruil gaan egter oor veel meer as net sport – dit sluit ook kragmetings in kultuur en akademie in. Die jaarlikse geleentheid bied aan leerders, personeel en ouers van beide skole die kans om herinneringe te skep, kameraderie te bevorder en blywende vriendskappe oor provinsies heen te bou.
Parel Vallei is trots om te deel dat hul eerste XI- meisies- én seuns-hokkie-spanne as wenners van die veld gestap het, terwyl hul eerste netbalspan met slegs twee punte kortgeskiet het.









