Die Hoërskool Parel Vallei se o.15 A-netbalspan het verlede maand – op Saterdag 21 Junie – geskiedenis gemaak toe hulle vir die Suid-Afrikaanse Skole Netballiga-kampioenskap gekwalifiseer het.
Dit is die eerste keer in die Somerset-Wes-skool se geskiedenis dat ‘n netbalspan hierdie prestasie behaal. Hulle het reeds geskiedenis gemaak aan die einde van die ligaseisoen toe hulle ‘n silwermedalje in die o.15-ouderdomsgroep van die Kay Motsepe-ligakampioenskap verwerf het. Die span beklee tans die tweede posisie in die Wes-Kaap.
“Harde werk, sweet en trane saam met hul afrigters, Adel van Wyk en Annemarie Raath, het tot hierdie prestasie gelei,”
sê Alida Duvenhage, die skool se netbalhoof.
Die span het die afgelope seisoen 39 wedstryde gespeel, waarvan hulle 36 gewen het – ‘n wenpersentasie van 92%. Dit is ‘n aansienlike verbetering teenoor 2024 toe hulle uit 30 wedstryde 24 gewen het. Dit was ‘n 80%-wenpersentasie, wat steeds ‘n merkwaardige prestasie is.
Die o.15-netbalspan se silwermedalje het hulle die geleentheid gebied om deur te dring na die Kay Motsepe Wes-Kaapse ligakampioenskap in Bredasdorp. Dit is die eerste keer in die skool se geskiedenis dat ‘n netbalspan die uitspeelrondes bereik.
Danksy hierdie oorwinning het die span die geleentheid om deel te neem aan die SASN-Kay Motsepe-ligakampioenskap in Konka, Pretoria, wat van Woensdag 13 tot Saterdag 16 Augustus plaasvind. Aansienlike koste is egter aan hierdie kampioenskap verbonde. Die koste vir die hele toernooi vir nege spelers sal R70 000 beloop, wat vlugte, verblyf en kos insluit. Daarom sal enige skenkings verwelkom word om die span die geleentheid te gee om verdere geskiedenis te maak.
Die span het ook ‘n kans om later vanjaar in Singapoer te gaan deelneem. Duvenhage het al die afrigters, spelers en hul ouers wat agter die skerms werk en ondersteun, bedank en met hul prestasie geluk gewens.
Om finansiële ondersteuning aan die span te verleen, kontak vir Duvenhage by 021 852 1228 of aduvenhage@pvallei.co.za.






