Ses verdagtes is Vrydagoggend (27 Januarie) aangekeer in verband met ’n rooftog waarin twee slagoffers met pangas gedreig is.
Die aanvallers se inhegtenisneming het gevolg nadat die voorval op veiligheidskamera vasgevang is. Beeldmateriaal toon hoe ’n groot groep van omtrent 15 jong mans – sommige met pangas gewapen – in ’n straat in Sir Lowry’s Pass afgestap kom.
In die video kan ’n mens sien hoe twee onskuldige voetgangers hulle in die groep kwaaddoeners vasloop en een van die mans van sy selfoon beroof word.
Volgens sers. Suzan Jantjies, ’n woordvoerder van die Somerset-Wes-polisie, het die voorval verlede Woensdag (25 Januarie) omstreeks 15:50 in Ou Sir Lowry’s Pass-weg in die omgewing van die High Riding-landgoed afgespeel. Die ses verdagtes is twee dae later in verband met die rooftog in hegtenis geneem.
Hulle het Maandag (30 Januarie) op aanklagte van roof met ’n wapen anders as ’n vuurwapen in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn. Die saak is tot Donderdag 9 Februarie uitgestel en vier van die verdagtes bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning. Die ander twee minderjarige verdagtes bly in ’n plek van veilige bewaring.
Jantjies het verduidelik die res van die groep is nie in hegtenis geneem nie, omdat hulle nie by die rooftog self betrokke was nie.
“Die inhegtenisneming volg nadat ’n 26-jarige man en sy kollega op pad terug van die werk af deur ’n groep van 15 mans met pangas gekonfronteer is. Ses van die mans (verdagtes) het die slagoffer omring, deurgesoek en van sy selfoon beroof. Die slagoffer is ook met ’n panga bygedam, maar het nie ernstige beserings opgedoen nie,” het Jantjies gesê.
Jantjies het bevestig dat ’n saak van roof met ’n wapen anders as ’n vuurwapen die dag ná die voorval aangemeld is.
“Die polisie se vispol-span het inligting ontvang oor die onderskeie verdagtes se woonadresse en inhegtenisnemings uitgevoer. Die ses verdagtes is positief met die voorval verbind.”
’n Gemeenskapsaktivis wat op voorwaarde van anonimiteit teen die misdaad uitgepraat het, het aan Distrikspos & Helderberg Gazette verduidelik dat ’n nuwe neiging in Sir Lowry’s Pass gereeld die kop uitsteek.
“Dis kinders wat onskuldige mense teiken en beroof. Dit gebeur elke paar dae in ons gemeenskap waar mense deur groot groepe kinders beroof en aangeval word. Dit skep nie ’n mooi prentjie vir ons gemeenskap nie en die hartseer is dat ’n klomp kinders by die groepe wat die mense so beroof, betrokke is,” het die bron gesê.
Kol. Jacolize Fleischmann, bevelvoerder van die Somerset-Wes-polisie, het die vispol-spanlede vir hul vinnige optrede geprys.
Die polisie staan borgtog teen.




