Familie en vriende van die vermoorde Nadia Lotz het vroeër vandeesweek buite die Strand-landdroshof byeengekom en bid dat geregtigheid sal seëvier vir die geliefde ma van drie.Foto: Jamey Gordon


Die Strand-polisie ondersoek ’n saak van moord nadat ’n Gordonsbaaise ma na bewering deur die pa van haar drie minderjarige kinders doodgesteek is.

Die voorval het Saterdagaand (4 Maart) plaasgevind en spruit glo uit ’n stryery wat tussen die oorledene, die 33-jarige Nadia Lotz van Temperance Town, en die verdagte ontstaan het.

Die paartjie was na bewering saam met die oorledene se vriendin in haar motor op pad huis toe toe hulle stry gekry en die woordewisseling in ’n mesaanval ontaard het.

Luidens ’n polisieverslag het Strand-polisiebeamptes omstreeks 18:00 op die voorval in Laer Gordonsbaai-weg gereageer. Die verdagte, wat glo agter Lotz gesit het, het na bewering oor die passasiersitplek geleun en haar keel afgesny. Die vriendin, wat agter die stuurwiel was, het aanhou ry. Maar, Lotz het in die ry uitgeklim en op die sypaadjie ineengestort, waar sy later beswyk het.

“Sy is op die toneel dood,” het die verslag aangedui. “Die verdagte het homself later by die Gordonsbaai-polisiekantoor oorgegee.”

Die verdagte sou gister (Dinsdag) op aanklag van moord in die Strand-landdroshof verskyn. Teen die koerant se druktyd gisteroggend was die uitslag steeds onbekend.

Lotz se ma en naasbestaandes van heinde en ver het Maandag (6 Maart) voor die lykskouing buite die hof byeengekom en hul pyn en smart in die lig van die tragedie met DistriksPos & Helderberg Gazette gedeel.

“Ons is uiters geskok. Die verlies van ons geliefde Nadia is so onwerklik,” het haar niggie, Sylvia Scheepers, gesê terwyl haar oë vol trane skiet.

“Benewens haar foute was sy ’n lieflike mens wat gelewe het vir haar kinders en haar ma. Sy het soveel drome gehad. Sy sou vanjaar daarna streef om haar bestuurspos te bekom en ’n beter lewe vir hul huisgesin te bou.”

Volgens Lotz se 63-jarige ma, Diana, sukkel sy om die werklikheid ná die verlies van haar enigste kind te verwerk. Dié pensioentrekker, wat oorspronklik van Heidelberg is, het jare gelede na die Gordonsbaai-woonbuurt verhuis waar sy en Lotz glo saam met die verdagte en hul kinders gewoon het. Sy het haar kind op die noodlottige dag laas lewend gesien toe sy dié oggend uit die huis is om werk toe te gaan. “[Die verdagte] het aan die kinders gesê hy sou Nadia by die werk gaan haal. Sy het egter nooit die huis gehaal nie,” het die bedroefde ouer gesê.

Volgens familielede was Lotz glo ’n slagoffer van huishoudelike geweld waaronder selfs haar ma gebuk gegaan het. “Hy het huisbaas gespeel en hulle gyselaar gehou. Hy het beheer oor Nadia afgedwing en wou haar onder die oog hê,” deel ’n naasbestaande.

Lotz het haar weens die geweld glo verskeie kere na die plaaslike polisiekantoor gewend en na familie so ver as Malmesbury om aan die kloue van die verdagte te ontsnap. “Sy het baie ter wille van die kinders oorgesien en laat vaar,” sê haar ma.

Nadia word oorleef deur haar ma Diana en drie kinders, een, ses en sewe.

Nadia Lotz

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article